SA o.19’s vermorsel Skotland

Stuid-Afrika se Steve Stalk tydens die o.19’s se kragmeting met Skotland. (Foto: X)

Suid-Afrika se onder 19-krieketspan het Saterdag in Potchefstroom die krieketwêreld verstom gelaat toe hy Skotland met sewe paaltjies vermorsel het.

Die jong Suid-Afrikaners was verwoestend met die kolf en het die boonste posisie in Groep B van die Wêreldbekertoernooi vir o.19-spanne voor Engeland ingeneem.

Nadat Suid-Afrika vroeër in die week deur Engeland volgens die Duckworth-Lewis-formule geklop is, moes hulle die Skotte binne 30 boulbeurte verslaan om voor die Engelse vir die SuperSes-rondes in te skuif.

Die jong Suid-Afrikaners (273/3) het Skotland se telling van 269/9 in net 27 boulbeurte verbygesteek. Suid-Afrika sal sodoende Potchefstroom as sy bondgenoot in die res van die reeks kan gebruik.

Die 17-jarige aanvangskolwer Steve Stolk, wat op Die Hoërskool Menlopark op skool was, was met sy 86 lopies (27 balle, 7×4, 8×6) verwoestend. Hy het sy 50-tal van net 13 balle (5×4, 5×6) af gemoker.

Dit het die kenners na die rekordboeke laat gryp, want die Indiese groot slaner Yuvrav Singh se 50-tal van net 12 balle af in 2007 was in ʼn stadium in die gedrang.

Stolk het by 13 balle gedraai en sy hele beurt se treftempo was ’n ongelooflike 232.43.

Die Proteas se o.19-span het Skotland laat les opsê. (Foto: X/ CSA)

Stolk en Lhaun-dré Pretorius (22) se aanvangsvennootskap van 114 lopies is in net nege boulbeurte aangeteken.  Pretorius wat op St Stihians College in Johannesburg op skool was, het ook ʼn baie groot indruk met sy verwoestende kolfwerk gemaak.

Toe Stolk in die 11de boulbeurt uit is, het Suid-Afrika reeds op 134 lopies gestaan en was die slag geslaan.

Dewan Marais, ‘n oud-leeling van Hoërskool Marais Viljoenl in Alberton, het met 80* (50 balle, 8×4, 3×6) die verwoesting opgevolg terwyl James Teeger met sy 43* (38 balle, 6×4) ook tot sy reg gekom het.

Teeger is vroeër deur Krieket Suid-Afrika van die kapteinskap onthef nadat hy in Oktober by ‘n Joodse toekenningsaand sy eerbewys aan die jong soldate in Israel opgedra het.

Die Skotte se Qasim Khan (0/54 in 3 boulbeurte), Owen Gould (0/28 in 2 boulbeurte) en Nikhil Koteeswaran (2/52 in 5 boulbeurte) het veral deurgeloop.

In die Skotte se kolfbeurt het Gould (97) en Jamie Dunk uitgeblink.

Riley Norton (3/48) en Kwena Maphaka (2/52) was die jong Suid-Afrikaners se keur boulers.

In Saterdag se ander kragmetings het Pakistan (144/0) ook groot indruk gemaak toe hy Nieu-Seeland (140) met tien paaltjies in Oos-Londen geklop het.

Zimbabwe (147/2) het in sy kragmeting met Namibië (146/8) in Kimberley gekook en met agt paaltjies gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Die krieket krag van Skotland, ook maar al waar Teegar sy plek verdien het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.