SA20 ook op Sky Sports te sien

Graeme Smith. Foto: Twitter.

Meer as 30 wedstryde in die splinternuwe SA20-toernooi sal ook op Sky Sports in Europa te siene wees.

Graeme Smith, toernooi-kommissaris, is natuurlik in sy noppies met die jongste verwikkeling.

“Ons is opgewonde daaroor om die dekking van die SA20-toernooi ook na Sky Sports se uitgebreide ondersteunersbasis te neem. Dít is ʼn belangrike ooreenkoms wat ons nog ʼn internasionale hupstoot vóór ons amptelike bekendstelling op 10 Januarie sal gee,” het Smith gesê.

Van die grootste internasionale sterre – onder wie Engeland se Jos Buttler, Jofra Archer en Sam Curren – sal hul kriekettoorkuns vir die ses franchise-spanne kom uitstal.

Volgens Bryan Henderson, baas van Sky Sports se krieketkanale, is hulle opgewonde oor die Suid-Afrikaanse mik-en-moker-avontuur.

“Ons glo dat die SA20 ʼn ongelooflike kompetisie sal wees met van die beste Engeland-spelers in aksie,” het Henderson gesê.

Smith het vroeër bevestig dat die krieketbeursies ook sal bult danksy die nuwe krieketinisiatief. Daar sal prysgeld van R70 miljoen (meer as $4 miljoen) op die spel wees wanneer die toernooi in alle erns begin.

“Hierdie toernooi is ʼn eerste keer vir Suid-Afrikaanse krieket en ʼn verdere aanduiding van SA20 se ambisie om ʼn positiewe invloed op plaaslike krieket te hê,” het die voormalige Protea-kaptein gesê.

Al die wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Eerste tien bepalings (vir ʼn volledige bepalingslys, klik hier):

10 Januarie: MI Cape Town teen Paarl Royals (17:30 in Kaapstad)

11 Januarie: Durban Super Giants teen Johannesburg Super Kings (17:30 in Durban)

12 Januarie: Sunrisers Eastern Cape teen Pretoria Capitals (17:30 in Gqeberha)

13 Januarie: Paarl Royals teen Johannesburg Super Kings (13:30 in die Paarl)

14 Januarie: Pretoria Capitals teen Sunrisers Eastern Cape (13:30 in Pretoria); MI Cape Town teen Johannesburg Super Kings (17:30 in Kaapstad)

15 Januarie: Durban Super Giants teen Paarl Royals (13:30 in Durban)

16 Januarie: Sunrisers Eastern Cape teen MI Cape Town (17:30 in Gqeberha)

17 Janaurie: Paarl Royals teen Durban Super Giants (13:30 in die Paarl); Johannesburg Super Kings teen Pretoria Capitals (17:30 in Johannesburg).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Die wêreld kan seker nie wag vir hierdie skouspel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.