SA20-toernooi tel stoom op

Die Paarl Royals het hul wedstryd teen die Pretoria Capitals gewen. (Foto: X/SA20)

Die SA20-toernooi is besig om goed stoom op te tel en daar word twee wedstryde vandag gespeel.

Die Joburg Super Kings speel om 13:30 teen MI Cape Town op die Wanderers, waarna Sunrisers Eastern Cape om 17:30 teen Durban’s Super Giants op St. Georgepark kragte meet.

Gisteraand het Andile Phehlukwayo se veelsydige vaardighede toegesien dat die Paarl Royals die Pretoria Capitals met 27 lopies kon klop.

Die 27-jarige Protea-speler het eers met die kolf uitgeblink en sy 28 onoorwonne lopies van 14 aflewerings het vir die nodige momentuminspuiting teen die einde van die Paarl-beurt gesorg.

Daarna het hy die belangrike paaltjies van Rilee Rossouw en James Neesham geneem om die Capitals tot 133/7 in sy toegelate 20 boulbeurte te beperk.

“Dit was goed om op te veld te wees. Ek het hard aan my spel gewerk en ek probeer om elke dag te verbeter. Gelukkig het dinge nou mooi uitgewerk en ek kon tot die span se sukses bydra,” het Phehlukwayo gesê.

Daarteenoor meen Neesham dat die Royals goed geboul het.

“Dit was nie ʼn ideale kolfblad nie, maar ʼn mens kan so iets seker nie met elke liewe wedstryd verwag nie. Ek dink ons het goed gedoen om hulle tot 160 lopies te beperk, maar hulle het uitstekend geboul en dit was veral moeilik vir die nuwe kolwers om aan die gang te kom,” het die Capitals-kaptein gesê.

  • Opsomming van die telkaart:

Paarl Royals 160/7 in 20 boulbeurte: David Miller 41, Andile Phehlukwayo 28* en Daryn Dupavilon 2/29.

Pretoria Capitals 133/7 in 20 boulbeurte: Phil Salt 39, Rilee Rossouw 29 en Andile Phehlukwayo.

  • Vandag se bepalings:

13:30: Joburg Super Kings teen MI Cape Town (Wanderers)

17:30: Sunrisers Eastern Cape teen Durban’s Super Giants (St. Georgepark)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.