Sal hierdie ‘SA-span’ die huidige Proteas klop?

Kyle Abbott. Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft

Die Proteas speel môre in die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande in St. Lucia. En met die Suid-Afrikaners wat tans sewende op die wêreldranglys lê, meen die Windies dat die komende toetsreeks hul beste kans is om die besoekers ore aan te sit.

Vir die eerste keer in 30 jaar.

Ja, die uittrede van sterspelers soos Faf du Plessis, AB de Villiers, Dale Steyn, Morné Morkel, Vernon Philander en Hashim Amla het vir groot leemtes gesorg, maar terselfdertyd speel talle Suid-Afrikaans-gebore spelers skitterkrieket oorsee.

En die kanse is goed dat só ’n gekombineerde span die huidige Proteas ’n ding of twee sal kan wys.

  • Die Suid-Afrikaans-gebore elftal:
  1. Stephan Myburgh (Nederland):

Ja, hy mag dalk ’n onbekende naam vir ’n paar krieketliefhebbers wees, maar die 37-jarige openingskolwer was destyds een van die belowendste skoolspelers in die land.

In die onlangse eendagreeks teen Ierland het sy beurt van 74 ’n deurslaggewende rol in Nederland se reeksoorwinning gespeel. Hy het ook tydens ’n Wêreldbekertoernooi een van die vinnigste T20-vyftigtalle ooit teen die Proteas gemoker.

  1. Devon Conway (Nieu-Seeland):

Devon Conway. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Die oudleerling van St. John’s College in Johannesburg het onmiddellik sy stempel op internasionale krieket vir die Kiwi’s afgedruk. Volgens Nieu-Seelandse krieketkenners was daar lanklaas iemand wat die deur na die nasionale span met soveel lopies oopgeskop het.

Hy het sy indrukwekkende vermoë met die wilgerlat met 200-tal in sy toetsbuiging teen Engeland op Lord’s onderstreep.

  1. Marnus Labuschagne (Australië):

Die sterkolwer het weliswaar op tienjarige ouderdom na Australië verhuis, maar hy is ongetwyfeld een van Klerksdorp se blinkste uitvoerprodukte.

Volgens die jongste ranglys is hy die derde beste toetskolwer ter wêreld.

  1. David Bedingham (Durham):

Die voormalige SA o.19-speler moker deesdae die een honderdtal na die ander vir Durham in die Engelse graafskapreeks.

In 13 beurte het hy reeds 787 lopies teen ’n gemiddeld van 71,54 gemoker.

  1. Dawid Malan (Engeland):

Die 33-jarige kolwer het sy matriek-eindeksamen daar by Paarl Boys’ High geskryf en deesdae is hy een van die verwoestendste T20-kolwers ter wêreld.

Hy het egter ook al sy staal in rooibalkrieket gewys met ’n goeie honderdtal teen Australië in Perth.

  1. Rilee Rossouw (Hampshire):

Rossouw was een van die Proteas se sterre in die 2015-Wêreldbeker-kriekettoernooi in Australië en Nieu-Seeland, terwyl hy met die speler van die wedstryd-toekenning in sy T20-buiging teen die Aussies weggestap het.

Hy het egter in 2017 ’n Kolpak-kontrak met Hampshire onderteken.

  1. BJ Watling (Nieu-Seeland):

Die paaltjiewagter is in Durban gebore, maar net soos Labuschagne het hy ook op tienjarige ouderdom sy geboorteland verlaat.

Die 35-jarige het al 74 toetse vir Nieu-Seeland gespeel, maar hy het aangedui dat die komende eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Indië sy laaste internasionale kragmeting sal wees.

  1. Simon Harmer (Essex):

Simon Harmer het al gesê dat hy die “beste wegbreek-bouler ter wêreld is”. Hoewel hierdie stelling ’n paar wenkbroue laat lig het, kan niemand oor sy vermoë met ’n krieketbal stry nie.

Hy is weer – vir die soveelste keer in sy loopbaan – onder die beste boulers in Engeland.

  1. Neil Wagner (Nieu-Seeland):

Neil Wagner. Foto: Michael Bradley/AFP.

Neil Wagner lewer deesdae die een skittervertoning na die ander vir Nieu-Seeland. Die 35-jarige Pretoriaboorling het in 2012 sy toetsbuiging vir Nieu-Seeland gemaak en sedertdien het hy reeds 219 paaltjies in 51 wedstryde teen ’n gemiddeld van 26,32 geneem.

  1. Kyle Abbott (Hampshire):

Die omstrede besluit om vir Kyle Abbott uit die halfeindstryd van die 2015-Wêreldbeker-kriekettoernooi te laat, het waarskynlik ’n groot rol in sy Kolpak-kontrak met Hampshire gespeel.

Hy het reeds 35 paaltjies in die huidige County-reeks laat spat.

  1. Duane Olivier (Yorkshire):

Meer as 400 eersterangse paaltjies teen ’n gemiddeld van net ’n rapsie bo 23 getuig van ’n baie goeie snelbouler. Net jammer dat hy ook destyds ’n Kolpak-kontrak onderteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Met n beurt en nog 300 lopies Sal Hulle ons huidige knie buigers klop
Ngidi Sal nie eens Zimbabwe se A span haal nie
Elgar kolf so stadig en vir homself en hy is al klaar 34 Dan maak Hulle hom nog Kaptein ook van toetsspan
Radaba speel soos AB net goed as dit IPL is, Wanner hy vir SA speel is hy beseer of geskors

B-Man ·

Ek dink nie so ‘n denkbeeldige span sal toegelaat word om te speel op enige blad in hierdie land nie of om as ‘n “Suid-Afrikaanse” span bekend te staan nie…kwotas.

Frank ·

Met krieket is enigiets moontlik, hoe onwaarskynlik dit ookal klink. So, daars ‘n klein kansie dat die BLM maatjies dalk kan wen, met so bietjie geluk aan hulle kant. Die KWOTA wedstryd speletjie gaan hierdie briljante oorsese spelers egter verloor nog voor dat hulle begin het.

Anoniem ·

Indrukwekkende kolflys, maar die snelboul aanval lyk effens dun.

piet ·

Ja nee wat, daai boulaanval lyk maar mak. Ook maar ‘n paar groentjies wat kolfwerk aanbetref.

piet ·

Ons beste kolwer, Bavuma, sal hierdie karige boulaanval deurmekaar moker en Rabada sal die groentjie kolwers laat bontstaan.

JohanCzu ·

Sedert weddery in sport gedoen word is meeste uitslae gekook. Rugby, krieket, inderdaad enige sport waar skeidsregters ‘n sê het. Dis hoekom ek nie meer my tyd mors om “sport” te kyk of te volg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.