SA’ners gee Seattle skop

Wayne Parnell is as die speler van die wedstryd aangewys. (Foto: Twitter/MCL)

Die VSA is bekend vir groot bakkies, groot hamburgers en nou ook groot sesse. Van die wêreld se voorste krieketspelers is in aksie by die Major League Cricket-toernooi (MCL) en ʼn paar Suid-Afrikaners is besig om die pap dik aan te maak.

Wayne Parnell, Quinton de Kock en Heinrich Klaasen het ʼn barshou vir die Seattle Orcas in hul mik-en-moker-kragmeting teen Faf du Plessis en David Miller se Texas Super Kings gespeel.

Parnell het ongetwyfeld van voor gelei om die Super Kings vir 127 lopies uit te boul. Die linkshandige snelbouler spog met ʼn boulontleding van 5/20 en hy het onder meer vir Miller en Dwayne Bravo terug na die kleedkamer gestuur.

Du Plessis is vir 13 lopies deur Australië se Andrew Tye skoongeboul, terwyl Devon Conway, sy Suid-Afrikaans gebore openingsvennoot, met die eerste aflewering van die wedstryd deur Imad Wasim uitgehaal is.

Quinton de Kock (53 lopies van 36 balle) en Heinrich Klaasen (42 van 21 balle) het daarna op Parnell se goeie vertoning voortgebou en die Orcas het die kragmeting met agt paaltjies beklink.

  • Opsomming van telkaart:

Texas Super Kings 127/10 in 20 boulbeurte: Dwayne Bravo 39, Daniel Sams 26 en Wayne Parnell 5/20.

Seattle Orcas 128/2 in 16 boulbeurte: Quinton de Kock 53, Heinrich Klaasen 42* en Mitchell Santner 1/15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.