Ses balle, ses paaltjies: ‘Ek kon my eie oë nie glo’

Mudgeeraba-spelers vier hul kaptein, Gareth Morgan (sewende speler van links), se merkwaardige prestasie. (Foto: Facebook/Mudgeeraba-krieketklub)

Baie boulers kan net daarvan droom om ʼn driekuns in ʼn wedstryd te behaal. Om drie kolwers op ʼn streep terug na die kleedkamer te stuur is ʼn uitsonderlike prestasie; of jy nou vir jou land, klub of skool speel.

Nou het ʼn Australiese klubspeler Gareth Morgan as’t ware dinge in die rooi gedruk deur ses paaltjies in ses balle te neem.

Boonop het hy dié merkwaardige prestasie in die laaste boulbeurt van ʼn Premierliga Afdeling 3-wedstryd behaal om die kragmeting vir sy span met vier lopies te beklink.

Surfers Paradise was op koers om sy tweestryd teen Mudgeeraba op ʼn drafstap te wen. Die branderplankryers met die beenskutte het net een grenshou nodig gehad om as oorwinnaars van die veld te stap, terwyl daar nog ʼn spul kolwers langs die veld gewag het om die wa deur die drif te trek.

Morgan het egter ander planne gehad.

As kaptein van die Mudgeeraba-elftal het hy besluit dat een van die span se jong boulers glad nie daarby sou baat as die wenlopies van sy boulwerk gemoker word nie. Daarom het hy besluit om eerder self die bul by die horings te pak.

Wat gevolg het, het nie net die hoofopskrifte van die plaaslike koerant gehaal nie, maar sommer ook dié van internasionale publikasies.

Met sy eerste aflewering het Morgan die paaltjie van Jake Garland geneem.

Surfers Paradise se openingskolwer het probeer om die wedstryd met een groot hou te wen, maar hy is met sy telling op 65 uitgevang.

Daarna moes Connor Matheson en Michael Curtin ook die pad terug na die kleedkamer aanpak en binne ʼn oogwink het die Mudgeeraba-leier met drie paaltjies in die beurt gespog.

“Toe ek die driekuns behaal het, het ek vir myself gesê dat ek wragties nie nou die wedstryd wil verloor nie,” het Morgan na afloop van die kragmeting gesê.

Hy het mos nou reeds hopeloos te veel moeite so op ʼn Saterdagmiddag gedoen, of hoe?

Wade McDougall is daarna net tru van punt uitgevang, terwyl hy vir Riley Eckersley en Bordie Phelan skoongeboul het.

“Toe ek met die laaste aflewering die paaltjies sien spat, kon ek my eie oë nie glo nie. Ek het nog nooit so iets gesien nie,” het Morgan aan Sydney Morning Herald gesê.

“Snaaks genoeg het die skeidsregter in die aanloop tot my beurt geskerts dat net ʼn driekuns die wedstryd vir Mudgeeraba kan beklink. Toe die sesde paaltjie val het hy my net – taamlik oorbluf – aangekyk!”

  • Neil Wagner, Al-Amin Hossain en Abhimany Mithun hou die rekord vir die meeste paaltjies nog in een beurt van ʼn professionele krieketwedstryd toe hulle vyf paaltjies in ses balle vir hul onderskeie spanne geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.