Son en sesse op SuperSportpark

Die warm son het toeskouers nie gekeer hom hul span op SuperSportpark te ondersteun nie. Foto: Maroela Media.

Sonbrandroom was weliswaar vandag ʼn noodsaaklike item op SuperSportpark in Centurion, maar die Pretoria Capitals en die Sunrisers Eastern Cape het die meer as 10 000 toeskouers op ʼn sesslaanfees trakteer.

Will Jacks en Theunis de Bruyn het danksy hul blitsige vennootskap van 111 lopies vanaf slegs 54 aflewerings om die derde paaltjie toegesien dat die tuisspan 216/6 in hul toegelate boulbeurte kon opstapel.

Die 24-jarige Jacks – wat al ʼn paar wedstryde vir Engeland gespeel het – was in ʼn verwoestende bui en hy het agt sesse in sy warrelwindbeurt geslaan.

Veral JJ Smuts (0/32 ná twee boulbeurte) en Brydon Carse (1/43 ná drie boulbeurte) het swaar geleef, maar Sisanda Magala (2/28) en Marco Jansen (1/31) kan tevrede wees met hul vertonings.

Die Oos-Kapaners se lopiejaagtog het rampspoedig begin toe Sarel Erwee al in die tweede boulbeurt die pad terug na die kleedkamer moes aanpak, terwyl Jordan Cox kort op sy spore gevolg het.

Wayne Parnell (2/20) het al twee paaltjies geneem.

Hoewel Aiden Markram (46) hard probeer het om die Capitals onder druk te plaas, het die res van die kolwers nie veel weerstand gebied nie.

Marques Ackerman en James Fuller is goedkoop uitgeknikker, terwyl Tristan Stubbs (die R9 miljoen-man) nie beïndruk het nie.

Die jong Protea-kolwer het een grenshou in sy beurt van 12 lopies geslaan voordat Adil Rashid hom skoongeboul het.

Marco Jansen (36*) het met ʼn paar groot houe vorendag gekom, maar die Oos-Kapenaars het toe lank reeds te veel stoom verloor.

Dit is lekker om plaaslike en internasionale spelers saam in ʼn span te sien en daar was nie plek vir ʼn muis op Supersportpark se graswalle nie.

Die SA20-toernooi kan inderdaad die lig aan die einde van ʼn stikdonker Suid-Afrikaanse kriekettonnel wees. Dit laat krieket weer lekker lyk.

  • Opsomming van telkaart:

Pretoria Capitals 216/6 in 20 boulbeurte: Will Jacks 92, Theunis de Bruyn 42 en Sisanda Magala 2/28

Sunrisers Eastern Cape 179/7 in 20 boulbeurte: Aiden Markram 46, Marco Jansen 36* en Wayne Parnell 2/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.