Sri Lanka, Aussies toer ook na Suid-Afrika

Kugandrie Govender. Foto: KSA.

Ten spyte van die administratiewe doodloopstraat waarin Krieket Suid-Afrika tans verkeer wag daar  vier internasionale toere op die Proteas in die voorsienbare toekoms.

Engeland skop die herlaaide internasionale seisoen met witbalreekse in Kaapstad en die Paarl af, terwyl Sri Lanka twee toetse in Pretoria en Johannesburg sal speel.

Die Proteas sal volgende jaar gasheer speel vir Australië en Pakistan in ’n toets- en witbalkrieketreeks. Alle wedstryde sal agter geslote deure aangebied word.

Volgens Kugandrie Govender, KSA se tydelike uitvoerende hoof, is die beleërde organisasie in sy noppies om die bepalings vir die komende tuisseisoen aan te kondig.

“Die wêreldwye Covid-19-pandemie het amok op die internasionale krieketkalender gemaak en dit is waarom ek so trots is op vandag se aankondiging. Dit is te danke aan baie ure se harde werk, toewyding en onderhandeling deur individue agter die skerms om te verseker dat ondersteuners opwindende krieket het om na uit te sien,” het Govender gesê.

֦’n KSA-taakspan ondersoek ook die moontlikheid om vroeg in die nuwe jaar na Pakistan te toer.

Foto: Twitter.

Die toere is welkome nuus vir ’n nasionale sportorganisasie wat deesdae van een fiasko na die ander beweeg.

Skaars ’n dag nadat Maroela Media berig het dat ses raadslede, onder wie die waarnemende president, Beresford Williams, bedank het, het die beleërde organisasie in ’n rits Twitter-inskrywings bevestig dat die res van sy raad vandag ook hul bedankings ingehandig het.

Dit sluit onder andere Zola Thamae, Eugenia Kula-Ameyaw, Marius Schoeman en Vuyokazi Memani-Sedile in.

“Nadat die lede beraadslaag het, is daar besluit dat die ganse raad moet bedank. Dit sal in die beste belang van krieket in Suid-Afrika wees. Alle onafhanklike en nie-onafhanklike direkteure het nou bedank,” het die organisasie op Twitter geskryf.

Bepalings:

  • 27 November 2020 – 9 Desember 2020: Eendag- en T20-reeks teen Engeland.
  • 26 Desember 2020 – 7 Januarie 2021: Toetsreeks teen Sri Lanka.
  • Die finale toerdatums vir Australië (drie toetse) en Pakistan (drie T20-wedstryde en drie eendagwedstryde) sal nog bevestig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Die Wolf ·

Wonder maar net wat gaan die geliefde Minister se reaksie wees met die Ossies wat nie gaan kniel nie.

Andre ·

Ons stel lankal nie meer belang in enige SA sport nie.Laat die kniebuigers maar op hulle eie aan ploeter.

Andrew ·

Pakistan, n plek van groot Christen vervolging. Maar nie n woord deur die krieket wereld daaroor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.