Stokes, Vaughan besing Brevis se lof

Dewald Brevis. Foto: Twitter.

Vir ’n sukkelende Mumbai Indians-span kan Dewald Brevis ongetwyfeld die lig aan die einde van die tonnel wees.

Ja, Mumbai het gister se Indiese Premierliga-wedstryd teen die Lucknow Super Giants met 18 lopies verloor, maar die 18-jarige Suid-Afrikaner het weer eens gewys waartoe hy in staat is.

Hy het net 13 aflewerings benodig om 31 lopies aan te teken en sy warrelwindbeurt het sewe grenshoue (ses viere en ’n majestueuse ses) ingesluit.

Selfs die bal waarmee hy uiteindelik sy paaltjie verloor het, het na ’n gewisse vier gelyk (as daar nou nie ’n veldwerker in die pad was nie).

Toegegee, ’n mens kan seker nie elke aflewering na die grens probeer stuur nie, maar gun die jong ster ’n bietjie vryheid; hy was verlede jaar nog op skool.

Benewens Brevis se kragtoer teen die Super Giants het hy vroeër 49 lopies van 25 aflewerings teen Punjab Kings geslaan, terwyl hy met sy eerste aflewering van Virat Kohli teen die Royal Challengers Bangalore ontslae geraak het.

Brevis, wyd en syd as “Baby AB” bekend, het sy stempel in die afgelope o.19-Wêreldbekertoernooi afgedruk waarin hy 506 lopies teen ’n gemiddeld van 84,33 geslaan het.

’n Opgewonde Graeme Swann het vanuit sy IPL-kommentatorshokkie gesê dat die jong Pretorianer hom ook aan Kevin Pietersen herinner.

“Hy is lank, hy probeer om vanuit die staanspoor sy stempel op die wedstryd af te druk en hy kan ’n nagmerrie vir enige bouler wees,” het die voormalige Engelse draaier gesê.

Nóg ’n Engelsman, Michael Vaughan, het ook Brevis se lof besing.

“Op 18-jarige ouderdom is Dewald Brevis reeds ’n ongelooflike speler. Mumbai het beslis ’n haas uit die hoed gepluk om sy handtekening te bekom,” het Vaughan getwiet.

Laastens het Ben Stokes dinge perfek opgesom met sy “Brevis = Player”-twiet.

  • Brevis se treftempo van 172,05 is beter as die pogings van gevestigde spelers soos Jos Buttler, David Miller en Virat Kohli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.