Sunrisers en RCB slaan saam 549 lopies

Heinrich Klaasen en Aiden Markram het ’n vennootskap van 66 lopies om die derde paaltjie vir die Sunrisers gedeel. (Foto: X/IPL)

Wie het ʼn vuurwerkvertoning nodig as jy ʼn Indiese Premierliga- (IPL-)wedstryd kan volg?

Die Sunrisers Hyderabad en die Royal Challengers Bengaluru (RCB) het Maandagaand vir ʼn lopiefees gesorg toe daar altesaam 549 lopies op die M Chinnaswamy-stadion gemoker is.

Travis Head (102 lopies van 41 balle) en Heinrich Klaasen (67 lopies van 31 balle) het toegesien dat die Sunrisers ʼn reusetelling van 287/3 in die toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Sodoende het die Hyderabad-span hul eie rekord vir die meeste lopies in ʼn IPL-beurt verbeter.  Klaasen en kie het vroeër in die toernooi 277 lopies teen die Mumbai Indians geslaan.

Die Sunrisers het die bal 22 keer oor die grenstou gestuur en RCB se kolwers moes omtrent hul storie ken om by die verlangde lopietempo van 14,4 te bly.

Faf du Plessis (62 lopies van 28 balle) en Virat Kohli (42 van 20 balle) het vir ʼn blitsige aanloop tot die tuisspan se kolfbeurt gesorg, maar die momentumtrein is ontspoor toe Kohli skoongeboul is.

Dit het gelyk of die Sunrisers op ʼn drafstap sou wen, maar Dinesh Karthik het ander planne gehad.

Die 38-jarige paaltjiewagter het 12 grenshoue in sy beurt van 83 lopies gemoker, maar ʼn wenteiken van 288 lopies het altyd na ʼn onmoontlike droom gelyk en RCB het met 25 lopies tekortgeskiet.

“Ek is baie tevrede met ons spel – ons het nou al vier wedstryde op ʼn streep gewen en ons kolwers speel omtrent met groot oorgawe. Ek het nie gedink ons kon op ons vertoning teen Mumbai verbeter nie; en kyk nou net,” het Pat Cummins, Sunrisers-kaptein, gesê.

  • Opsomming van die telkaart:

Sunrisers Hyderabad 287/3 in 20 boulbeurte: Travis Head 102, Heinrich Klaasen 67* en Lockie Ferguson 2/52.

Royal Challengers Bengaluru 262/7 in 20 boulbeurte: Dinesh Karthik 83, Faf du Plessis 62 en Pat Cummins 3/43.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Faf staan maar die kapteinskap af, goeie speler, maar sub-par skipper.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.