Sunrisers kan nie meer vir silwerware speel

Mohammad Shami het vier paaltjies in die Sunrisers-beurt geneem. (Foto: Twitter/IPL)

Die Sunrisers Hyderabad kan nie meer vir die uitspeelwedstryde van die Indiese Premierliga kwalifiseer nie.

Aiden Markram se span het sy agtste nederlaag van die toernooi gely toe die Gujarat Titans die tweestryd met 34 lopies in Ahmedabad gewen het.

Die Sunrisers het eintlik uitstekend terugbaklei om die Titans tot 188/9 in die toegelate 20 boulbeurte te beperk nadat Shubman Gill 101 lopies van slegs 58 aflewerings gemoker het.

Bhuvneshwar Kumar het vyf paaltjies geneem en die Titans het agt paaltjies vir slegs 41 lopies verloor.

Maar ondanks Heinrich Klaasen se moedige probeerslag – die Protea-paaltjiewagter het 64 vinnige lopies aangeteken – het die ander kolwers gesukkel om aan die gang te kom en hulle kon uiteindelik net 154 lopies aanteken.

“Klaasen is ʼn topgehalte speler wat nie net die langsteel kan inlê nie, maar ook slim oor die spel kan dink. Ongelukkig het ons ander kolwers hom nie die nodige ondersteuning gebied nie,” het Markram gesê.

Die Sunrisers-kaptein het tien lopies aangeteken voordat Dasun Shanaka hom van Mohammad Shami se boulwerk uitvang het.

“Daar is nog trots in die span en dalk kan ons ʼn paar geleenthede vir ander spelers gee. Ons spel was ongelukkig nie op standaard nie.”

Die 28-jarige Markram, wat uitstekend vir die Proteas in aanloop tot die toernooi gespeel het, kon tot dusver net 217 lopies teen ʼn gemiddeld van 21 aanteken.

Klaasen is tans die span se voorste kolwer met sy 326 lopies teen ʼn spoggerige gemiddeld van 46,57. Hy slaan terselfdertyd sy lopies teen ʼn treftempo van 172.

  • Opsomming van telkaart:

Gujarat Titans 188/9 in 20 boulbeurte: Shubman Gill 101, Sai Sudharsan 47 en Bhuvneshwar Kumar 5/30.

Sunrisers Hyderabad 154/9 in 20 boulbeurte: Heinrich Klaasen 64, Mohammad Shami 4/21 en Mohit Sharma 4/28.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.