Sunrisers se Hermann skitter met 100-tal

Jordan Hermann vier sy spoggerige honderdtal. (Foto: X/SA20)

Jordan Hermann het Dinsdagaand die lopiekrane op Nuweland oopgedraai om die tweede honderdtal van die jongste SA20-toernooi te moker.

Die 22-jarige openingskolwer het ʼn onoorwonne beurt van 106 lopies geslaan en sy vennootskap van 138 lopies het die grondslag vir die Sunrisers Eastern Cape se oorwinning van vier lopies teen MI Cape Town gelê.

Die Sunrisers het 202 lopies in sy 20 boulbeurte aangeteken, waarna Ottniel Baartman se puik boulvertoning die tuisspantrein in sy spore gestuit het: Ryan Rickelton en Rassie van der Dussen het immers vir die perfekte aanloop tot die tuisspan se beurt gesorg.

Maar terug na Hermann se kragtoer.

Hy het ses keer die bal oor die grenshou in sy beurt van 62 aflewerings gemoker en hy het veral met sy vaartversnelling beïndruk.

Die oudleerder van Hoërskool Waterkloof in Pretoria het aanvanklik net 30 lopies van sy eerste 26 aflewerings aangeteken, maar daarna het hy sy voet op die versnelpedaal gehou om 76 lopies van sy laaste 36 balle te moker.

Sy warrelwindvertoning het die aandag van AB de Villiers getrek.

“Ek is nie net beïndruk met sy talent nie, maar ook met sy karakter. Hy het ʼn baie blink toekoms wat op hom wag en hy speel tans goeie krieket,” het die Protea-legende op sosiale media gedeel.

  • Opsomming van die telkaart:

Sunrisers Eastern Cape 202/2 in 20 boulbeurte: Jordan Hermann 106*, Dawid Malan 53 en Kieran Pollard 2/22.

MI Cape Town 198/5 in 20 boulbeurte: Ryan Rickelton 58, Rassie van der Dussen 41 en Ottniel Baartman 3/35.

  • Punteleer:
  1. Durban’s Super Giants: 13 punte ná drie wedstryde
  2. Paarl Royals: 8 punte ná twee wedstryde
  3. Sunrisers Eastern Cape: 6 punte ná drie wedstryde
  4. MI Cape Town: 5 punte ná drie wedstryde
  5. Joburg Super Kings: 2 punte ná drie wedstryde
  6. Pretoria Capitals: geen punte nie ná twee wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.