Vaughan, Pietersen kry hul KSA-wense

Jacques Kallis. Foto: Twitter.

Kom ons draai nie doekies om nie: ’n Week of wat gelede het dinge besonders donker in Suid-Afrikaanse krieket gelyk. En hoewel onlangse verwikkelinge ʼn mens weer hoop vir die toekoms gee, dink ʼn mens onwillekeurig aan ’n aangepasde Afrikaanse uitdrukking: Selfs ’n paar swaeltjies maak nie nooodwendig ’n somer nie.

Snaaks genoeg was dit twee Engelse krieketspelers wie se wenslysie saam met duisende Suid-Afrikaanse krieketondersteuners sʼn ooreengestem het.

Die voormalige Engelse kaptein Michael Vaughan het saam met Kevin Pietersen basies op sosiale media gepleit dat Graeme Smith, Mark Boucher en Jacques Kallis in een of ander hoedanigheid by Krieket Suid-Afrika betrek word.

“Wêreldkrieket het ’n sterk Suid-Afrikaanse span nodig. Tyd dat Boucher as afrigter oorneem. En waarom betrek jy nie sommer vir Smith en Kallis ook nie?” het Vaughan vroeër getwiet.

Pietersen het ook sy regruk-strategie op sosiale media gedeel.

Op 6 Desember het ‘KP’ getwiet dat hy KSA se probleme kan oplos.

Kevin Pietersen. Foto: Twitter.

“Jacques Faul as uitvoerende hoof, Graeme Smith as direkteur, Mark Boucher as hoofafrigter, Makhaya Ntini as boulafrigter, Robin Peterson as draaier-afriger en Jacques Kallis as span-raadgewer. Kan dit rêrig so moeilik wees?” het Pietersen gevra.

Nou ja, Faul is as die tydelike uitvoerende hoof aangestel, Smith is die tydelike direkteur van krieket, Boucher is die afrigter tot die 2023-Wêreldbeker en Kallis is die kolf-afrigter vir die res van die seisoen.

Boucher het sommer dadelik sy groep van 17 spelers vir die eerste twee toetse teen die Engelse toerspan gekies. Onthou, daar was vroeër nie eens ’n keurpaneel nie, om nie eens van ’n mededingende Suid-Afrikaanse toetsspan te praat nie.

Dr. Jacques Faul. Foto: Twitter.

Veral Kallis se aanstelling as die Proteas se kolf-ghoeroe laat Suid-Afrikaanse krieketondersteuners glimlag.

Koning Kallis het baie onder kritiek tydens sy speeldae deurgeloop. Maar sy statistieke is absoluut sonder enige gelyke.

In die laaste drie jaar van sy toetsloopbaan het hy in 33 toetse 2 810 lopies teen ’n gemiddeld van 58 aangeteken. Terselfdertyd het hy ook 34 paaltjies geneem.

“Dit voel baie goed om weer in die Proteas se kleedkamer te wees. Hoe vlieg die tyd nie. Dit voel soos gister toe ek nog gespeel het, maar nou sien ek daarna uit om Mark Boucher te help om die Proteas weer op die plek te kry waar hulle hoort,” het Kallis getwiet.

Die eerste toets teen Engeland is op 26 Desember in Pretoria.  Kom ons hou net duimvas dat Smith-hulle toegelaat word om die Proteas reg te ruk, sonder inmenging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

toy ·

Beste nuus nog. So bly. Ons huisgesin is groot aanhangers van hulle almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.