Vergeet van kolwe, sambrele dalk spelers se voorland

Reën kan ’n groot invloed op die T20-Wêreldbekereindstryd tussen Engeland en Pakistan hê. Foto: William West/AFP.

Volgens die weerprofete kan dit Sondag allesbehalwe sesse reën wanneer Engeland en Pakistan teen mekaar in die eindstryd van die T20-Wêreldbeker op die ikoniese Melbourne Cricket Ground (MCG) speel. Daar is tans ʼn 95%-kans vir reën, terwyl donderstorms ook ʼn invloed op die spel kan hê.

Hoewel daar ʼn gebeurlikheidsplan of twee gereed is – Maandag word as ʼn reserwedag opsy gesit, terwyl ʼn verkorte kragmeting ʼn definitiewe moontlikheid is – sal dit hartseer wees as eendeweer die laaste lag.

Reën word immers ook vir Maandag voorspel.

Dit sal ʼn treurige dag vir Engeland wees as die wedstryd nie kan voortgaan nie, veral nadat hulle gister vir Indië met tien paaltjies verrinneweer het om vir die eindstryd te kwalifiseer.

Jos Buttler (80 van 49 aflewerings) en Alex Hales (86 van 47 balle) het ʼn onoorwonne openingsvennootskap van 170 lopies in slegs 16 boulbeurte geniet om sodoende die wind heeltemal uit die Indiërs se seile te haal.

“Ek dink ons is ʼn goeie span wat terselfdertyd met ʼn paar individuele sterre spog. Wanneer ons op ons beste is, is dit moeilik om ons te stuit. Boonop sorg ons selfvertroue vir ʼn goeie hupstoot hier op die vooraand van die eindstryd,” het Buttler gesê.

Maar indien geen spel op enige van die twee dae moontlik is nie, sal Engeland en Pakistan die trofee moet deel.

Daar is darem ʼn klein silwer randjie aan die donker reënwolk: Trietsige weer was ook vroeër vir die groepfase-kragmeting tussen Pakistan en Indië op die MCG voorspel. En dit het uiteindelik in een van die beste wedstryde van die toernooi uitgedraai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.