Video: Starc gooi kolf rond nadat kaptein beurt verklaar

Mitchell Starc. Foto: Twitter.

Snelboulers kan soms maar lekker knorpotte wees en krieketkapteins moedig dit gereeld aan – hoe kwater die bouler, hoe vuriger sy aflewerings.

Maar wat gebeur as die snelbouler vir sy eie span vies is?

Die linkshandige Aussie-blits Mitchell Starc was goed op koers om die eerste honderdtal van sy loopbaan in ’n Sheffield Shield-wedstryd vir New South Wales teen Tasmanië aan te teken.

En as daar een ding is wat vir ’n snelbouler groter vreugde as spattende paaltjies verskaf, dan is dit om lopies te slaan.

Die 30-jarige het juis in NSW se tweede beurt saam met Sean Abbott gekolf toe hy sy eerste honderdtal aangeteken het. Die twee boulers het ’n kolfvennootskap van 189 lopies geniet en Starc het uitstekend op ’n onoorwonne 86 van 132 aflewerings gelyk.

Maar opgewondenheid en afwagting het in skok en afgryse verander toe Peter Nevill sy span se beurt verklaar het.

Starc is een van die gevaarlikste boulers in wêreldkrieket. Foto: Twitter.

Starc het vir ’n oomblik oorbluf in die middel van die kolfblad gestaan, vir Abbott met sy kolfbeurt gelukgewens en van die veld gestorm. By die kleedkamers het hy skaars in sy spanmaats se rigting gekyk terwyl hy sy kolf in handskoene vies op die grond neergesmyt het.

Hoewel Nevill se besluit vrugte afgewerp het – New South Wales het die wedstryd uiteindelik met 145 lopies op die finale dag gewen – het hy steeds vir Starc om verskoning gevra.

“Ons het ’n bietjie oor alles gesels en ek het vir hom om verskoning gevra,” het Nevill gesê.

“Ek verstaan natuurlik sy frustrasie want hy het baie goed gekolf en amper sy honderdtal aangeteken. Maar daar gaan nog vele soortgelyke geleenthede wees as hy aanhou om só te kolf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja OK. Ek sou dieselfde gedoen het as dit een van my eerste honderdtalle was, maar jy raak gewoond aan die kaptein se besluite. Ek het vir ‘n kort ruk vir Rhodesië gespeel voor ons in SA kom bly het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.