Wie gaan Nortjé se skoene volstaan?

Anrich Nortjé. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Anrich Nortjé se afwesigheid moet ’n gevoelige terugslag vir die Proteas op die vooraand van die toetsreeks teen Indië wees.

Die 28-jarige snelbouler is deesdae beslis Suid-Afrika se beste bouler – soos wat sy 25 paaltjies in sy vyf toetse vanjaar getuig – terwyl hy gereeld met sy vaart en aggressie beïndruk.

En hoewel die Protea-spanbestuur hoop dat hy gereed sal wees vir die eendagreeks, beteken sy lastige heupbesering dat hy beslis die drie toetse sal misloop.

Met Kagiso Rabada en Lungi Ngidi wat so te sê verseker is van hul plek in die elftal, maak Nortjé se afwesigheid die deur vir Duanne Olivier oop om sy eerste toets in meer as twee jaar vir die Proteas te speel.

Olivier (nou 29 jaar oud) het destyds sy tasse vir Yorkshire in Engeland gepak, maar nadat alle Kolpak-dinge deur die mat geval het, is hy weer terug in Suid-Afrika. En hy laat omtrent die plaaslike kolwers bontstaan.

Ná vier eersterangse wedstryde vir die Lions het hy reeds 28 paaltjies teen ’n uitstekende gemiddeld van 11,14 geneem.

Duanne Olivier. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

In sy begindae as toetsspeler het hy kolwers met kort aflewerings gepeper, maar Charl Langeveldt (Protea-boulafrigter) meen dat hy deesdae ’n meer afgeronde bouler is: Hy kan paaltjies neem, maar terselfdertyd ook die lopiekrane toedraai.

Die Groblersdal-boorling is ongetwyfeld in die binnebaan om saam met Rabada en Ngidi die pyle in Suid-Afrika se snelboulkoker te wees.

Terselfdertyd kan die nasionale keurders ook op die belowende Marco Jansen, Beuran Hendricks, Glenton Stuurman en Sisanda Magala steun om Nortjé se skoene vol te staan.

Hoewel Indië se kolwers deesdae ’n bietjie sukkel, is Virat Kohli steeds een van die bestes ter wêreld, terwyl ’n speler soos KL Rahul oor emmersvol talent beskik.

Die besoekers sal dus nie sommer weer vir 100 en 66 (danksy Allan Donald se destydse heldedade op Kingsmead) uitgeboul word nie.

Proteasgroep: Dean Elgar (kaptein), Temba Bavuma (onderkaptein), Quinton de Kock, Kagiso Rabada, Sarel Erwee, Beuran Hendricks, George Linde, Keshav Maharaj, Lungi Ngidi, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Keegan Petersen, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Marco Jansen, Glenton Stuurman, Prenelan Subrayen, Sisanda Magala, Ruan Rickelton en Duanne Olivier.

Bepalings:

26 tot 30 Desember 2021: Eerste toets op SuperSportpark

3 tot 7 Januarie 2022: Tweede toets op die Wanderers

11 tot 15 Januarie 2022: Derde toets op Nuweland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.