Windies donder en blits verby teiken

Rovman Powell lê die langsteel in. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Hoewel nat toestande die eerste T20-wedstryde tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande tot 11 boulbeurte per span beperk het, het dit later ook sesse op SuperSportpark gereën.

Rovman Powell se blitsbeurt van 43 onoorwonne lopies vanaf slegs 18 aflewerings het uiteindelik toegesien dat die Windies die Proteas se teiken van 132 lopies met drie paaltjies staande verbygesteek het.

Die individuele talent van die besoekers se elftal beteken dat hulle baie gevaarlik in die kortste formaat van die spel is en elke Protea-bouler is omtrent met ʼn ses begroet.

Veral Bjorn Fortuin het swaar geleef en hy het 42 lopies in sy twee boulbeurte afgestaan.

Anrich Nortjé. Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photography.

Dankie tog vir Anrich Nortjé en Sisanda Magala se heldedade teen die einde van die Windies-beurt waarna die wedstryd op ʼn spannende einde afgestuur het.

Nortjé het oudergewoonte hopeloos te veel vaart en aggressie vir sy teenstanders gehad, terwyl Magala twee belangrike paaltjies vanaf agtereenvolgende aflewerings laat kantel het.

Maar Powell se beurt was die verskil tussen wen en verloor en die Windies-kaptein het vyf groot sesse gemoker.

Vroeër is Quinton de Kock met die eerste bal van die wedstryd uitgehaal toe hy deur Sheldon Cottrell vanaf Akeal Hosein se boulwerk uitgevang is.

Dit is die eerste keer in amper ses jaar – toe Jon-Jon Smuts destyds sy paaltjie teen Engeland verloor het – dat ʼn Suid-Afrikaanse kolwer met die eerste aflewering van ʼn T20-kragmeting uitgehaal is.

Rilee Rossouw, Aiden Markram en Heinrich Klaasen het almal hul paaltjies verloor terwyl hulle vinnig probeer lopies aanteken het.

David Miller. Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photography.

David Miller het egter maar ʼn David Miller gedoen en nadat hy die toestande mooi ontleed het, het hy met ʼn vaart losgetrek om 48 vinnige lopies aan te teken.

Hy het ʼn goeie bondgenoot in Magala gehad en die Proteas het 60 lopies vanaf die laaste drie boulbeurte gemoker.

Maar dit was uiteindelik nie genoeg nie.

Die volgende wedstryd in die reeks word ook môre op SuperSportpark beslis. Die eerste aflewering word om 14:00 afgestuur.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 131/8 in 11 boulbeurte: David Miller 48, Reeza Hendricks 21 en Odean Smith 2/27.

Wes-Indiese Eilande 132/7 in 10,3 boulbeurte: Rovman Powell 43*, Johnson Charles 28 en Sisanda Magala 3/21.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.