Wisden vereer Stokes wéér

Ben Stokes-hulle vier hul merkwaardige oorwinning teen Pakistan. (Foto: Aamir Qureshi/AFP.)

Ben Stokes sal seker ʼn bykomende vertrek in sy huis moet laat aanbou om al sy toekennings in te stoor.

Wisden Almanack het die Engeland-toetskaptein vir die derde keer in die afgelope vier jaar as sy voorste krieketspeler op die internasionale verhoog aangewys.

Onder Stokes se veglustige leierskap het Engeland onder meer  wedstryde teen Pakistan, Indië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika gewen.

Die Bleekbene slaan deesdae hul lopies teen ʼn flinke pas, terwyl aggressiewe boulwerk en veldwerkplasings hul teenstanders onder druk plaas.

Die 31-jarige veelsydige speler, wat in Nieu-Seeland gebore is, is bekend vir sy onverskrokke benadering tot die spel: Hy hou nie daarvan dat toetse onnodig uitgerek word of onbeslis eindig nie.

“Wen of verloor; ons sal op só ʼn manier speel dat nie een van die toetse in die Reeks om die As onbeslis eindig nie. Dit maak nie saak wat die telling is of hoe die situasie lyk waarin ons onsself bevind nie, ons benadering sal nie verander nie,” het Stokes gesê met die oog op later vanjaar se tweestryd teen Australië.

Volgens Wisden se Lawrence Booth is dit omtrent vir kenners ʼn uitdaging om ʼn speler te vind wat ʼn groter ommeswaai vir sy span as Stokes bekwerkstellig het.

“Hy was aggressief wanneer hy gekolf en geboul het, terwyl sy honderdtal in Manchester die reeks vir Engeland teen Suid-Afrika beklink het,” het die redakteur gesê.

Hoewel Engelse krieketliefhebbers al vantevore gesê het dat Stokes die beste speler ooit is, meen Moeen Ali dat hy sukkel om by Jacques Kallis kers vas te hou.

Ná 91 toetse is die Engeland-kaptein se kolfgemiddeld 35,92, terwyl hy ʼn boulgemiddeld van 32,10 handhaaf. Daarteenoor het die Proteas se Kallis sy loopbaan van 166 toetse met ʼn kolfgemiddeld van 55,4 en ʼn boulgemiddeld van 32,6 afgesluit.

“Ek sou sê Kallis is die beter speler omdat hy soveel meer lopies, paaltjies en vangskote geneem het. Maar as Stokes dieselfde spelpeil vir die res van sy loopbaan handhaaf, sal hy ongetwyfeld een van die beste spelers ooit wees,” het Ali gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.