Die Proteas het gister op St George’s Park hul vierde agtereenvolgende kitskragmeting teen Sri Lanka gewen.
Die tuisspan het die wenlopies reeds in die 33ste boulbeurt geslaan met slegs vier paaltjies plat.
Anrich Nortje (3/57) en Andile Phehlukwayo (2/21) het die besoekers tot 189 beperk. Maar oudergewoonte het Quinton de Kock (51) en Faf du Plessis (43) die grootste lopieaandeel in Suid-Afrika se wentelling van 190/4 gehad.
Die Du Plessis/De Kock-duo het tot dusver in 2019 ’n produktiewe jaar gehad en as dit nie vir hul flitsende kolwe was nie, sou die Proteas baie meer gereeld in tamatiestraat gewees het.
“Ons kan nie bekostig om ’n middelmatige kolflys te hê en dan op een of twee kolwers staat te maak om al die lopies by die Wêreldbeker te kry nie,” het Du Plessis gesê.
Maar tog maak die Proteas baie op dié twee kolwers (en in ’n mindere mate op David Miller) staat om hul lopies te kry.
Kyk byvoorbeeld na hul rekords in hul laaste 12 kolfbeurte (toetse ook ingesluit):
- De Kock: 129, 18, 33, 83, 80, 55, 86, 1, 81, 94, 121, 51.
- Du Plessis: 40*, 57, 50*, 78, 35, 90, 25, 50*, 112*, 57, 36, 43.
In die huidige eendagreeks teen Sri Lanka is hulle die twee voorste lopievrate in die reeks. De Kock se 347 lopies word teen ’n gemiddeld van 86.75 geslaan, terwyl Du Plessis se 248 lopies teen ’n treftempo van 101.22 gekry word.
In Durban – waar die Proteas 331/5 in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken het, het Rassie van der Dussen (50) ’n goeie ankerrol vertolk, terwyl Phehlukwayo ’n blitsige 38 van 18 balle aangeteken het.
Aiden Markram het agtereenvolgende tellings van 169, 143 en 85 in die plaaslike eendagreeks vir die Titans geslaan, maar is gisteraand vir slegs 29 uitgehaal.
Die Indiese Premierliga begin binnekort en De Kock en Du Plessis speel onderskeidelik vir die Mumbai Indians en die Chennai Super Kings. Of blitskrieket ’n positiewe impak op hul vyftigboulbeurtspelpeil gaan hê, is ’n ope vraag.
Onthou nog vir Jacques Kallis – ná ’n swak IPL-toernooi, het hy ’n nog swakker toer na Engeland gehad.
Dit sal lekker wees om te sien dat ’n ander kolwer – Markam, Duminy of Hendricks – vir ’n slag die meeste lopies in ’n Proteakolfbeurt kry.
Die Proteas sal op meer as net twee kolwers se knoppies by die Wêreldbeker moet kan druk.
ja en dit is jammer
Ja hulle maak te veel staat op 2 of 3 spelers
As hulle nie runs kry nie is daar ‘n probleem en as hulle runs kry dan is daar ‘n probleem. NET in SA…
Daar is nie ‘n probleem as hulle runs kry nie ,maar daar is ‘n probleem dat die ander nie runs kry nie.
Al het Faf en Quinton sover goed met die kolf gedoen beteken dit nie dat ons goed sal vaar in England nie. Ons het n probleem met ons boulaanval en sukkel om die sterte van spanne uit te boul. Boonop her Srilanka maar power gevaar teen ons en kan ons onsself nie eintlik teen hulle meet nie. India en Australia is gunstelinge terwyl NZ en England ver bo die Proteas uitblink in eendag wedstryde.
Ek stem saam met Jakes die span het nie net 2 kolwers of spelers nie, en met gister se spel kon jy sien Quinton is gestress en het glad nie lekker gelyk nie, help nie daar soveel stress op no 2 en 3 dan gaan hulle ook nie nie hulle beste gee nie, gee net almal n kans elke game is anders, elke blad is anders weer speel ook rol. Daar is baie faktore wat kan maak dat n speler 121 lopies kan kry en volgende week net 50! Hulle doen regtig net hulle bes.
Ja nee ek stem haal biekie vir de kock uit en vir Faf dan sien ons wat gebeur dan…