Mening: Dit was net hier en daar ʼn goeie 2022 vir ons sport

Foto: GB Jordaan.

Was 2022 ʼn goeie sportjaar vir van ons vernaamste sporte of nie? En hoe meet ʼn mens dit?

As jy ʼn groot rugby-ondersteuner is en jy was op Mbombela toe die All Blacks werklik teen die Springbokke se lekkerste vertoning van die jaar geswoeg het, sal jou antwoord moontlik ʼn ‘ja’ wees. Was jy egter in Bloemfontein toe die Wallabies gewen het, gaan jy sê dit was ʼn gemiddelde, selfs swak, jaar.

En hoe was ons krieketspan? “Weer gevou by ʼn Wêreldbeker”, sal baie sê. Maar…

Dis natuurlik op ʼn manier subjektief, maar ek gaan tog poog om van ons vernaamste sporte in 2022 (uiteraard redelik kortliks) te ontleed aan die hand van suksesse of vordering, en sal ook hier en daar so effens krities wees oor dinge wat nagelaat is.

RUGBY

Kurt-Lee Arendse het een van die Springbokke se twee drieë in Dublin gedruk. Foto: Paul Faith/AFP.

Suid-Afrika word as ʼn rugbyland beskou. En dis waar ek wegspring.

Die Springbokke het vanjaar in 13 toetse gespeel en agt daarvan gewen. Die wenpersentasie is 61%.

Dis trouens net-net aanvaarbaar. (Maar een enkele verkeerde beslissing in die 16-19-verloortoets teen Ierland waaraan ek kan dink, het ons van ʼn wenpersentasie van 69% weerhou!)

Jacques Nienaber-hulle het ook van die toetse as ʼn vorm van “proewe” gebruik om te sien wie van die aspirante teen byvoorbeeld ʼn Walliese span hul man kon staan.

Ná die eerste wentoets op Loftus is daar 19 veranderings aan die 23-tal aangebring. As span, wat saam geoefen het maar nog nooit saam gespeel het nie, het die Springbokke in die tweede toets met 12-13 teen die Walliesers in Bloemfontein vasgeval.

Die ou-ou stelsel van Springbokproewe is natuurlik uitgedien. Daar is nie tyd of plek om dit in ʼn seisoen in te pas nie.

Daar is vanjaar ʼn hele klomp nuwe Bokke by die totaal van 919 van einde verlede jaar gevoeg. Deon Fourie het op 35 jaar en 287 dae die oudste debuut-Springbok geword; Canan Moodie was ʼn toevoeging tot ons verskeie 19-jarige Bokke deur die jare.

Die twee puik jong agstemanne in Elrigh Louw en Evan Roos, asook Kurt-Lee Arendse, Manie Libbok, Jaden Hendrikse, Grant Williams, Ruan Nortje, Aphelele Fassi, Ntuthuko Mchunu, Salmaan Moerat het hul eerste proesel toetsrugby gekry.

Die eerste siftingsproses vir die 2023-Wêreldbeker in Frankryk is al gedoen.

  • Op ʼn jonger vlak: Volpunte vir afrigter Bafana Nhleko, wat die Junior Springbokke in Italië losgelaat het. Hulle het in die o.20-Sesnasiestoernooi met Engeland, Ierland en Frankryk in hulle groep afgereken en toe vir Wallis verspot-maklik in die eindstryd (47-27) geklop.
  • Dit gaan ook goed op skolevlak, hoewel daar bedenkinge moet wees oor die buitensporig-hoë bedrae wat skole vir afrigters en afrigting betaal – en daarmee ook die skeeftrek van die sport se belangrikheid.

Daar is reeds gevalle van skoleproewe vir 2023 se eerstespan, plus spanoefeninge (dusver net in die Wes-Kaap waarvan ek weet) wat reeds in September gehou is!

Wat van meer onderwysers en afrigters wat minder betaal word?

Franchise’e:

Foto: GB Jordaan.

Op franchise-vlak is daar steeds snedige opmerkings van oorsese beamptes, spelers en ondersteuners dat die VRK ʼn Europese toernooi is. Dis geïgnoreer en ons spanne het hulle stil gespeel. Twee van ons vier spanne het die eindstryd gehaal, wat die Stormers teen die einde teen die Bulls gewen het.

  • Boonop het ons verlede naweek, in die eerste ronde van Europa se vernaamste rugbykompetisie en moontlik die taaiste ter wêreld, met twee van hul spanne in die Europese Rugbykampioenskap afgereken. Net die Stormers, wat in die tweede helfte teen Clermont Auvergne gesukkel het, het ná ʼn uiters taai stryd nie gewen nie.

In die Europese Uitdaagkompetisie het die Lions in hul wedstryd teen die Dragons gelykop gespeel, en die Vrystaat het in hul eerste ligawedstryd teen ʼn Europese span met 21-16 teen Pau gewen.

Sewes:

Die Blitsbokke was dán warm, dán weer yskoud in ʼn wisselvallige jaar. Tog het hulle toe dit saak maak die goue medalje by die Statebondspele gewen. En die aanbieding van die Wêreldbekertoernooi, vir mans en vroue, in Kaapstad was ʼn groot sukses.

Vroue-rugby:

Ons vrouerugby se harde werk begin vrugte afwerp. ʼn Drie van ʼn aanslaan af, met tyd reeds verstreke, het die Bok-vroue uit die Wêreldbeker-kwarteindronde in Auckland gehou. Hulle toon ook ʼn opwaartse kurwe in sewes, met Nadine Roos wat vir die Wêreldbeker-sewestoernooi in Kaapstad se Droomspan gekies is.

Ons kort meer van Nadine se gehalte. Om dit te bereik, sal daar, soos by die Bulls waar die vroue ook nou beroepspelers is, meer spelers gelok en afgerig moet word – selfs op skolevlak.

KRIEKET

Die Proteas het teen Nederland verloor. Foto: Twitter.

Die Proteas het in die T20-wêreldbeker in Australië wéér teleurgestel.

Dit maak hulle nie ʼn slegte span nie, veral nie in dié formaat van moker teen elke prys nie. Wen is natuurlik lekker, maar verloor is amper vergelykbaar met die geluk van ʼn uitklop-strafdoel in sokker.

Vra maar vir die tuisspan, Australië, en Indië wat ook nie die eindstryd gehaal het nie.

Kyk jy egter na die jaar as geheel, is daar veel vir ons krieketspanne om oor tevrede en selfs trots te wees.

Die Proteas ook die T20-reeks 2-1 teen die Engelse gewen en met een elk in die eendagreeks hul kant gebring. (Die ander wedstryd is weens reën nie gespeel nie.)

Hulle het in Nieu-Seeland die twee-toets-reeks teen die Kiwi’s met een oorwinning elk gedeel. Twee amperse toetsgroentjies, Sarel Erwee en Kyle Verreynne, het in die tweede toets elk ʼn honderdtal geslaan.

Dewald Brevis. Foto: Twitter.

Daar is goeie jong sterre aan die kom. Dewald Brevis is ʼn ster van die toekoms, Tristan Stubbs is reeds internasionaal ‘ingelyf’ en het die hoogste bod (R9,3 miljoen) in die ‘aankoop’ van spelers gehaal.

Suid-Afrika se snelaanval is van die heel beste ter wêreld, en die Proteas was redelik onlangs nog eerste op die toetsranglys. ʼn Toetsstilte vir die Proteas sedert die Engelse toer beteken dat van dié lande wat wel toetse gespeel het, ons op die ranglys verbygesteek het.

Ons rekord (dusver) in 2002, ná vier toetsreekse, lees: 10 gespeel, 6 gewen, 4 verloor (twee teen Engeland, een elk teen Indië en Nieu-Seeland).

  • Interessant is dat Suid-Afrika (41) die minste toetse van die voorste nege spanne op die toetsranglys gespeel het. Indië, eerste op die ranglys, het 63 toetse gespeel. Pakistan (55), Wes-Indië, Bangladesj (51), Nieu-Seeland en Sri Lanka (50 elk), Engeland (49) en Australië het almal meer as die Proteas gespeel.

SA se posisie op die Internasionale Krieketraad se ranglyste op 11 Desember was:
Toetse: 3de (ná Australië en Indië)
Eendag: 6de (ná Nieu-Seeland, Engeland, Australië, Indië en Pakistan)
T20: 4de (ná Indië, Engeland en Pakistan).

  • ʼn Mens kan ook uitsien na die eerste SA Krieket T20-liga, gelaai met ons bestes, en ook internasionale sterre, wat op 10 Januarie begin.

Dit kan nie meer professioneel wees as dat die ses “eienaars” van ons ses plaaslike franchise’e uit die IPL kom nie.

Die ses plaaslike franchise’e en hul tuisvelde (met hul IPL-eienaar in hakies):
Kingsmead, Durban (Lucknow Super Giants)
St Georgespark, Gqeberha (Sunrisers Hyderabad)
Nuweland, Kaapstad (Mumbai Indians)
Bolandpark, Paarl (Rajasthan Royals)
Wanderers, Johannesburg (Chennai Super Kings)
SuperSport-Park, Pretoria (Delhi Capitals)

ʼn Vername kwessie is hoeveel toeskouers die wedstryde sal lok. Dit is belangrik dat dit, benewens die geld uit promosies en advertensies, ook ʼn voorste kompetisie vir toeskouers word.

Nietemin, geluk aan SA Krieket. Dit lyk of dié beheerliggaam besig is om sy wanorde te herstel. Daar is gewis vooruitgang.

HOKKIE

Tim Drummond, deel van die Suid-Afrikaanse hokkiespan, speel teen Pakistan tydens die Statebondspele. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Suid-Afrika se manshokkiespan het in November in Potchefstroom hul goeie vertoning by vanjaar se Statebondspele voortgesit en die uitspeeltoernooi gewen.

Dit beteken dat hulle aanstaande jaar vanaf Oktober in die Internasionale Hokkiefederasie (FIH) se amperse jaarlange 2023/24-toernooi teen van die wêreld se voorste lande sal speel en in Januarie in FIH se Wêreldbeker sal speel.

  • In Birmingham het die mans slegs die tweede keer vir die Statebondspele se halfeindronde gekwalifiseer, waar hulle 3-2 deur Indië uitgeskakel is. In die uitspeelronde om die bronsmedalje, het Engeland die Suid-Afrikaanse span geklop.
  • Die vrouespan het in die Wêreldbeker gesamentlik laaste (15de) saam met Kanada geëindig. Hulle het net een gelykopuitslag en vyf nederlae in hul ses wedstryde kon invul en het net vyf doele aangeteken met 13 teen hulle.

Die junior vrouespan het veel beter gevaar en is eers in die kwarteindronde van die Wêreldbeker uitgeskakel.

SOKKER

Suid-Afrika het vanjaar in 10 internasionale wedstryde gespeel. Daarvan het hulle vyf gewen, drie verloor (een met uitklop-strafskoppe) en twee wedstryde was gelykop.

Die jammerte is dat daar eintlik hoofsaaklik teen die swakker Afrikalande gespeel is: Twee keer teen Botswana, twee keer teen Mosambiek, een keer elk teen Madagaskar en Angola…

Hoewel ʼn groot gros van ons beste spelers oorsee speel waar hulle meer geld verdien, sal Suid-Afrika plan moet maak om te kan meeding teen spanne soos Frankryk (verloor 0-5). Die Bafana is tans 67ste op FIFA se ranglys.

  • Vanjaar se MTN 8-eindstryd is deur Orlando Pirates met 1-0 teen Amazulu in ʼn gepakte Moses Mabhida-stadion gewen. Die wendoel is in die 26ste minuut deur Monnapule Saleng, met ʼn skitterende vryskop, aangeteken.

NETBAL

Norma Plummer. Foto: ANA.

Met ons netbal het dit ook nie te waffers gegaan nie. Die tekens van ʼn insinking gemeet aan die Proteas se ou standaarde was ooglopend, en die afrigter Dorette Badenhorst is deur ʼn vorige afrigter, die Australiër Norma Plummer, vervang. Plummer was van 2016-2019 in beheer van afrigting.

Tog het die Proteas vroeg in November in Nieu-Seeland die Fast5 gewen. Nicholé Taljaard was die speler van die toernooi.

  • Kwalik twee weke ná Plummer se aankoms in November het die Proteas die Spar-Diamantliga in Pretoria gewen. Hulle het Skotland 54-36 in die eindstryd geklop, en hoewel die kompetisie nie teen uitsoeklande was nie (Skotland, Zimbabwe en die SA Presidentspan), was Plummer ná die reeks tevrede.

Met die Netbal-wêreldbeker wat aanstaande jaar in Kaapstad vanaf 28 Julie gespeel word, is daar min tyd vir regruk oor.

  • Die Proteas het vroeg vanjaar in die vierhoekige byeenkoms in Londen nie ʼn enkele van sy drie wedstryde teen Engeland, Australië en Nieu-Seeland gewen nie.
  • In die Statebondspele het die span in die ligafase teen Jamaika (68-49) en Australië (49-7) verloor en Skotland (65-46), Barbados (91-36) en Wallis (69-51) geklop, maar toe die uitspeelwedstryd om vyfde/ sesde plek teen Uganda (48-54) verloor.

ATLETIEK

Stephen Makoka is Suid-Afrika se mees onlangse houer van ʼn wêreldrekord. Dit is deur Wêreld Atletiek erken nadat hy, in sy eerste ooit 50 km-padwedloop, die Ethiopiër Ketema Negasa se jaaroue rekord van 2:42:07 na 2:40:13 verbeter het. Die wedloop in Maart was deel van die Nedbank-byeenkoms in Gqeberha.

Makoka, 37, is ʼn driemalige Olimpiese atleet en het ʼn beste tyd van 2:07:08 in die marathon. Hy het feitlik elke Suid-Afrikaanse nasionale titel van 1 500 m en verder afstande gewen.

Irvette van Zyl. Foto: Verskaf/Cuan Walker.

Irvette van Zyl, wat verlede jaar ook in Gqeberha die 50 km-rekord opgestel het, was vanjaar derde.

  • Suid-Afrika se atlete by die Wêreld Junior-kampioenskappe in Colombia en die Suid-Afrikaanse span by die Statebondspele in Birmingham het maar gesukkel. Medaljes en opkomende talent was skaars.

Een van die probleme mag dalk die gebrek aan gestruktureerde afrigting wees. Heeltemal te veel atlete, baie van hulle met heelwat potensiaal, moet op buite-afrigters staatmaak om te ontwikkel.

Moet daar nie meer voorsiening vir gereelde junior byeenkomste, behalwe die kortstondige interhoër-skolebyeenkomste, gemaak word nie?. Dié byeenkomste is nie genoeg om uitblinkers te ontwikkel nie.

Miskien moet Atletiek SA ons jonges begin identifiseer en formele afrigting aanbied. Almal kan nie buite-afrigters bekostig nie.

  • By vanjaar se Wêreldkampioenskap (2021) in die VSA was daar, soos in 2019, ook nie ʼn enkele medaljewenner nie.

SWEM

Tatjana Schoenmaker en Lara van Niekerk. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Swem was vanjaar weer Suid-Afrika se beste sport op die internasionale byeenkomste.

By die Statebondspele het die swemmers vir 11 van die land se 27 medaljes gesorg, en ook vier van die sewe goue medaljes gewen.

Suid-Afrika het vier goue medaljes, vier silwermedaljes en drie bronsmedaljes gewen.

Die goues het gegaan aan Lara van Niekerk (2), Pieter Coetze en Tatjana Schoenmaker. Coetze, Chad le Clos, Erin Gallagher en Schoenmaker het die vier silwer medaljes gewen. Daar was ook brons vir Kaylene Corbett, Christian Sadie en Pieter Coetze.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.