Mening: Loting jare voor toernooi benadeel voorste spanne in Wêreldbeker

springbokke rugby toeskouers vlag

(Foto: GB Jordaan)

Nic Mallett, voormalige afrigter van die Springbokke toe hulle 17 agtereenvolgende toetse tussen Augustus 1997 en Desember 1998 gewen het, is ʼn man wat sy rugby ken. Hy is ook omstrede, want hy sê ʼn ding soos hy dit sien.

Maar baie min mense sal werklik van hom verskil oor sy siening dat die loting vir die Wêreldbeker, vir 2023 en ook in die verlede, nie regverdig is nie. Die vier groepe is bykans drie jaar voor die Wêreldbeker se afskop in September bepaal. In dié tyd het die spanne se posisie op Wêreldrugby se ranglys aansienlik verander.

Dit gaan nie hier net om die feit dat Suid-Afrika in sy Groep B met Ierland (1) en Skotland (5) te doen gaan kry nie. Die Iere is tans die wêreld se beste span, Suid-Afrika is vierde op die ranglys en Skotland vyfde. Die ander twee spanne in die Springbokke se groep is Tonga (15) en Roemenië (20).

Ook Frankryk en die All Blacks in Groep A gaan meer sukkel as die voorste spanne (volgens huidige gradering) in Groepe C en D.

Vergelyk Suid-Afrika se Groep B met:
Groep A se twee groot kanonne is die All Blacks (3), Frankryk (2), Italië (13), Uruguay (18) en Namibië (21).
Groep C: Wallis (9), Australië (7), Fidji (14), Georgië (12) en Portugal (16).
Groep D is Engeland (6), Japan (10), Argentinië (8), Samoa (11) en Chili (22).

Dit is duidelik dat die Springbokke, Ierland, die All Blacks en Frankryk se kanse om vas te val veel groter is as dié van die voorste spanne in Groepe C en D, hoewel die Poemas Engeland kan vasvat.

Lof is skaars, kritiek volop as dit by sport kom

Graeme Smith. Foto: AFP.

Vandag wil ek lof toeswaai, maar ook kritiek lewer ná die suksesvolle SA20-reeks wat nuwe lewensbloed aan ons krieket verskaf het.

Lof moet veral gaan aan die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith, direkteur van die SA20-reeks, vir die versiendheid om hulp by die Indiese IPL te gaan soek – en daarmee saam ook raad in oorvloed, inligting en borgskappe vir van ons spanne gekry het.

Dit het nuwe lewensbloed aan ons krieket verskaf, nadat toeskouers vóór die SA20-toernooi redelik traag-traag na krieket van alle formate gaan kyk of selfs op televisie dopgehou het.

Daar was ʼn paar haakplekkies hier en daar, wat eintlik nie ter sake is as dit opgeweeg word teen die goeie balans wat vermaak, op én langs die veld, gebring het nie. Dit was, in die geheel, ʼn jolige affêre, en ʼn mens het weer kriekethelde en -belangstelling begin sien met die toeskouers wat by die meeste wedstryde vir amper vol pawiljoene gesorg het.

Daar kan maar net gehoop word dat die langer formate, die toetskrieket en eendagwedstryde ook in gewildheid sal toeneem, met meer gereelde sukses en ʼn nuwe benadering – soos die toetskrieket wat Engeland nou probeer gewilder maak met vinniger kolfwerk.

Elgar: Suid-Afrikaanse kolfrekord en tweede plek as kaptein

Dean Elgar (Foto: AFP)

My kritiek – saam met ʼn pluimpie vir hulle insette by die SA20 – rig ek aan die SA Krieketraad. En dit gaan oor toetskrieket.

Ons het ʼn vrotsige toer na Australië gehad en die reeks met 0-2 verloor. Ons is ons eerste plek op die ranglys kwyt na ons vroeër ook teen Engeland verloor het en lê nou vierde, met slegs ʼn buitekans om weer onder die voorste twee te eindig vir die toets-eindstryd einde vanjaar.

Daar het ongetwyfeld iets by die span gehaper. Dit word, volgens wat uit die spelerskamp verneem word, aan die (nou voormalige) afrigter Mark Boucher se bestuurstyl toegeskryf.

Waaroor ek egter kriewelrig voel, is die ‘afdanking’ van Dean Elgar as toetskaptein.

Ek gee toe Elgar het onlangs twee vergeetlike toetsreekse teen Engeland en Australië gehad.

Aan die ander kant, het hy as toetskaptein sedert 1992 die tweede beste wenrekord (52,94% van wedstryde gewen) van alle Suid-Afrikaanse kapteins naas Shaun Pollock (53,84%) gehad – beter as Faf du Plessis (50%), Graeme Smith (49,07%), Hansie Cronjé (50,94%) en Kepler Wessels (31,25) wat weliswaar almal in meer toetse kaptein was.

Elgar is nie ʼn opwindende kolwer nie, maar darem iemand wat saam met Desmond Hayes van Wes-Indië die enigste kolwer in die geskiedenis van toetskrieket is wat drie keer, soos hulle in Engels sal sê, “sy kolf gedra het” deur nie uit te wees na sy span se tien paaltjie gekantel het nie.

Die oud-Vrystater is ʼn vegter. Ná twee nulletjies in sy eerste toets het hy teruggeveg – en kort daarna was hy as aanvangskolwer uiteindelik die onoorwonne kolwer. Hy het dit in 2018 binne twee maande twee keer herhaal.

Hy het meer as 5 000 lopies in sy 145 toetsbeurte aangeteken, insluitende 13 honderdtalle en 22 vyftigtalle, met ʼn hoogste telling van 199 en ʼn toetsgemiddeld van 37,5.

Bavuma, nuwelinge − begin van nuwe era

Temba Bavuma. (Foto: Marco Longari/AFP0

Die keuse van Temba Bavuma, wat deur die nuwe afrigter Shukri Conrad as toetskaptein aangestel is, sal nou ook onder ʼn tweede afrigter, Rob Walter, as eendagkaptein speel.

Enersyds is dit half snaaks dat hy as kaptein met albei spanne opgesaal word, want dit was in die verlede te veel vir een man; maar aan die ander kant is dit ʼn spanvernuwing onder nuwe afrigters, gegewe die keuse van Bavuma as kaptein saam met die insluiting van nuwe spelers, Tony de Zorzi en Gerald Coetzee, en ook Keegan Petersen en Ryan Rickleton wat herroep is. Die twee nuwe afrigters is Conrad (toetse) en Rob Walter, wat na die eendagspan al omsien.

Dit sal hopelik ʼn nuwe suksesvolle hoofstuk vir Suid-Afrikaanse krieket inlui.

Bavuma is, aldus spanmaats, ʼn goeie leier; hy het onlangs teen Engeland ʼn uitstekende honderdtal in ʼn eendagwedstryd geslaan; hy was die voorste lopiemaker en het die hoogste gemiddelde in die fiasko-toetsreeks teen Australië gehad. Sy veldwerk is uitstekend.

Hy het weliswaar net een honderdtal in toetse, maar het darem ook 20 vyftigtalle bygedra – in lyn met die kriteria dat ʼn toporde-kolwer in meer as 20% van sy beurte 50 of meer moet aanteken. Sy gemiddelde is 34,53 − feitlik dieselfde as Elgar s’n.

Bavuma se vertonings in eendagwedstryde op internasionale vlak is nóg beter. Sy gemiddelde is 46,05 en hy het reeds drie honderdtalle en twee vyftigtalle in dié spelformaat aangeteken. Sy lopietempo per 100 balle is 86,99. Dis iets waaraan hy sal moet werk.

Die spelers het respek vir Bavuma, en op die ouderdom van byna 33 het hy in jare ook so ʼn rapsie se senioriteit teenoor heelwat van sy spanmaats.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Manie ·

Die loting vir die wêreldbeker groepe behoort 3 maande voor die tyd gedoen te word.

Harley Davidson ·

Ek ondersteun nie enige sport wat diskrimineer teen spelers gebaseer op velkleur nie .

George ·

Elgar was power as kaptein en het slegs verskonings gaan soek. Gaan kyk na sy rekord as batsmen, en dan kyk jy sy rekord as batsman en kaptein, ek dink net 1 x 50, dis dit, avg van ek dink 21 of 19 as kaptein.

piet ·

Dit mag dalk so wees maar ek dink ‘n meer voordelige loting gaan jou dalk net ‘n makliker kwarteinstryd gee. Hier teen die semi’s moet jy ‘n topland klop en ook ‘n topland klop in die eindstryd om die beker te wen. Ek sal nie te veel aandag gee aan die loting nie, as jy goed genoeg is, sal jy deurgaan.

Leon ·

Loting speel geen rol. As n span die wereld kampioen wil wees moet hy enige span op enige tyd kan klop ongeag teen wie hy geloot is. Gaan dit as verskoning gebruik word indien n span in die eerste rondte uitval. Lagwekkend om die minste te se

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.