Mening: Ons bly in ʼn sportmal land, maar…

(Foto: GB Jordaan)

Ons bly in ʼn sportland. Daaroor is daar geen twyfel nie. Ek sal so ʼn bietjie later in hierdie meningstuk meer hieroor sê.

Maar eers wil ek stilstaan by die treurmare van wat op die veld met ons sewesspanne aangaan.

Wat die mansspan betref, is daar baie talent en ook nuwelinge. Hulle is fiks, daaroor bestaan daar geen twyfel nie. Hulle het slaankrag, miskien nie soveel as in Neil Powell se laaste jare as afrigter en in die Paul Treu-tydvak nie. Maar belangrik, hulle wen te min besit, en om een of ander rede ‘kliek’ hulle nie gereeld op die aanval nie.

Die hoofafrigter, Sandile Ngcobo, skryf die gebrek aan bestendigheid toe aan ʼn geestelike ingesteldheid, en sou dié week, voor die komende naweek se toernooi in Los Angeles, daarop konsentreer.

In die vroue se geval is daar weinig vaart of slaankrag in die span. Daar is die afgelope jaar ongetwyfeld vordering, maar dit maak nie sin dat ‘nie-rugbylande’ soos Brasilië en Spanje se vroue meer gehaltespelers as ons het en beter vertoon nie.

Kyk ʼn mens na die besliste vooruitgang van ons nasionale vrouespan, ook op provinsiale vlak by veral die Blou Bulle, wat meer as ʼn volle span gekontrakteerde vroue-beroepspelers het, moet daar tog ʼn rede wees waarom die sewes sukkel?

Soos die mans, het die vroue-sewesspelers die vaardighede heeltemal onder die knie, maar kort hulle ook daardie ‘iets’. Myns insiens is dit vaart by die vroue…

Sportmal

Oor my stelling dat Suid-Afrika ʼn sportmal land is, gee ek hieronder voorbeelde – met die besef dat ons in die konteks van die meeste genoemde sporte (nog?) nie heeltemal bo is in verskeie van hierdie sporte nie, maar ook met die wete dat ons teenoor vele van ons teenstanders eintlik maar ʼn ‘klein’ land is.

En daar is ook iets wat ʼn mens moet byvoeg: Was dit nie vir swak administrasie en geldelike verleenthede nie, het ons vertonings nóg beter gelyk.

SA se uitblink-sporte

Ja, ons het nie die toeskouersgetalle wat byvoorbeeld krieket in Indië of sokker in Brittanje (en Europa) bywoon nie. Nigerië het byvoorbeeld 227 miljoen mense teenoor ons net meer as 60 miljoen.

Die Sunrisers Eastern Cape is weer die SA20-kampioenspan. (Foto: X/SA20)

Maar kyk maar net hoe toeskouers gestroom het na die afgelope SA20-reeks, waarvoor die krieketbase en veral die leiding van die oud-Proteakaptein Graeme Smith lof verdien. Dit was ʼn toernooi om op trots te wees, op én af van die veld af, en vergelyk goed met die bestes ter wêreld.

Boonop was ons vier voorste rugbyspanne, maar veral die Stormers en die Bulls, se bydrae tot die massiewe rekord-toename in die VKR-reeks se toeskouergetalle in 2021/22 en 2022/23 noemenswaardig.

Heelwat van die sporte waaraan Suid-Afrikaners deelneem se prestasies is behaal ondanks swak administrasie en geldelike verleenthede. (Meer hieroor, en oor die afgelope SA20 se negatiewe keersy, later in die meningstuk.)

  • Bo-aan ons lys van tong uitsteek, is Wayde van Niekerk. Sy wêreldrekord in die 400 m staan al feitlik agt jaar sedert die 2016 Olimpiese Spele, waar hy die 400 m in 43,03 afgeblits het.
  • Ons kan ook spog met vier Wêreldbekers in rugby, ʼn derde plek in Afrika-sokker, een van die voorste spanne in sewesrugby (hoewel hulle tans sukkel), ʼn klompie puik swemmers wat deur die jare al op die internasionale verhoog hul man staan, ʼn krieketspan wat vierde op die toetsranglys, die derde beste eendagspan ter wêreld en sesde in die T20 is.

En laat ons eers ʼn bietjie stilstaan by krieket:

Tabraiz Shamsi. (Foto: Hansie Linde)

Kagiso Rabada is die derde beste toetsbouler op die IKK se huidige ranglys; Keshav Maharaj is die beste eendaagse bouler en Tabraiz Shamsi is sewende op die T20-ranglys; Aiden Markram is ons voorste veelsydige speler in T20 (vyfde) en in eendaagse krieket; en Marco Jansen is agste op die ranglys vir veelsydige toetsspelers.

Ons vroue is derde in eendaagse krieket en vyfde in T20 (waar Laura Wolfaardt die derde beste kolwer is) – en ons o.19-mans is die derde beste span ter wêreld.

Dit gaan goed met ons hokkie. Ons netbal, nog altyd ʼn faktor op nasionale vlak, is stadigaan besig om weer kop op te tel; en ons bied die beroemde Comrades-marathon jaarliks aan…

Skolesport

Gaan kyk gerus maar ook Saterdae hoe ons skolesport, met deelname én toeskouers, ondersteun word.

  • Terloops, dit sou nogal interessant gewees het as die koste van toeskouers om hul kinders te ondersteun, uitgewerk kon word.

Veral in die rugbyseisoen reis gesinne/ of ouers letterlik derduisende kilometer. Groot privaat skole in Gauteng reis met soveel as 28 spanne na die Wes- of Oos-Kaap, van die top-skole vlieg drie, vier keer per jaar van Noord na Suid en andersom vir wedstryde tussen die voorste skolespanne.

Groot borgskappe help om spelers te ‘koop’ en in gevalle word daar in die skoolfonds gedelf om die afrigters te betaal.

ʼn Skool in die Wes-Kaap het onlangs sy lys van vyf beroepsafrigters bekend gemaak wat betaling vir hul dienste ontvang. Die reiskoste om duisende kilometer per jaar te reis moet ook van êrens gekry word…

Hokkie

Ja, ons is lief vir ons sport. En heelwat van die sporte waaraan Suid-Afrikaners deelneem se prestasies is, ondanks swak administrasie en geldelike verleentheid, behaal.

Terwyl (veral) ons manshokkie op internasionale vlak nou tussen die voorste lande tel, is daar vele vingers te wys na die departement van sport (en ook die Hokkiefederasie).

Ons mansspan het einde 2022 ʼn internasionale kwalifiserende FHI-toernooi in Potchefstroom gewen en sodoende vir die elite FIH Pro League-reeks gekwalifiseer. Tussen die departement se karige hokkie-toedeling van R4-miljoen per jaar en die SA Hokkiefederasie se eensydige besluit dat hulle nie die nodige fondse het nie – sonder om die departement daarin te ken – was die reeks vir die SA-hokkiespan van die baan.

  • Die Suid-Afrikaanse mans en vroue se hokkiespanne het albei vir die 2024 Olimpiese Spele gekwalifiseer. Dis darem ʼn troos vir sommige van die manne wat nie in die FIH se reeks kon speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Dis waar dat daar nie voldoende spoed is by die vroue span nie. Sal iewers ‘n atleet of twee moet kry wat daai x-faktor het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Soos Kuba. Mal en goed in sport, maar arm en bankrot. Terloops, het die Parlement al die gewysigde regulasies om aan WADA se vereistes te voldoen goedgekeur?

Kroo ·

Wat die sewes betref– Daar kan geen verandering wees tensy die afrigters nie met insig kan verstaan nie:

Dat elke teenstander al is dit driekeer per dag in diepte bestudeer moet word deur die afrigter. DIT is waarvolgens gespeel word ,die sterk en swak punte van die opposisie . Nie dieselfde plan wat die laaste keer gewerk het nie.

Die Bokke moet aanleer om in hulle self te glo. Die wereld dink die bokke skop voortdurend ween n gebrek aan selfvertroue. MOET NOOIT SKOP NIE tensy dit n werklike taktiese aanval is nie. VERAL NIE in die laaste minute van die spel nie. In geval van 15 man rugby is verskeie wedstryde verloor deur die skop van die bal vir die teenstander in die laaste minute. DIT MOET WET WORD— dit is soos oorlog of jag. JY skiet nooit nie of skop nooit nie, TENSY jou opleiding en instink jou waarsku — nou is jy in lewensgevaar of die bok is absoluut kwesbaar of — n drie kan nou gedruk word !

Die land moet ophou om die bokke te gebruik vir advertensies en TV bemarking! Ons verswak die bokke — hulle moet nie dink ek moet speel soos dit op TV lyk nie. Hulle moet tyd he en oefen oefen totdat alles tweede natuur is en mede -spanlede se natuurlike speel mentaliteit en sterk en swakpunte gesamentlik gesinkroniseer is.

Ons bokke kan ! Ondersteun !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.