Mening: Rugbyskurke – en die magdom ander sporte

Foto ter illustrasie. (Foto: Ben Hershey/Unsplash)

Dis amper te veel gevra om by te bly met alles wat in sport aangaan. En ek praat nie net van ons eie rugby, krieket, swem, netbal, atletiek, sokker, fietsry en wie weet wat ook al nie.

Voor ek by die vele datums, sporte, bepalings en wedstryde kom, wil ek egter skryf oor die toenemende neiging van geweld by wedstryde waar die skeidsregters – selfs tydens wedstryde – en ook teenstanders van die tuisspan, ná wedstryde, deur toeskouers aangerand word.

En dan praat ʼn mens nie eens van motorbande wat gesny word of skeidsregters wat ná wedstryde in kleedkamers moet skuil nie…

Rugbyskurke

Dit gebeur in vele unies, maar OP Rugby is soos so dikwels in die verlede steeds – behalwe sowat vier jaar onder André Rademan voordat hy ʼn slagoffer van Covid geword het – die heel grootste bron van wanorde sedert die voorsitterskap van veral Cheeky Watson.

Hulle geskorste president Maasdorp Cannon het verlede week alle klub- en skolewedstryde verbied – ʼn redelike besluit, hoewel dit uitgevaardig is deur ʼn man wat twee jaar lank deur SA Rugby geskors is. (Hy het teen die skorsing geappelleer en bly dus tot die uitkoms daarvan aan as president.)

Die geweld is kommerwekkend. En die OP is nie die enigste unie met probleemtoeskouers nie. Daar was die afgelope twee jaar selfs op skolevlak heelwat gevalle, met aanrandings in Griekwas en in Durban wat sommer dadelik by my opkom. Daar was ook vele ander waarvan ek nie die detail onthou nie; selfs een waar die pa van ʼn skolespeler in die Wes-Kaap die afrigter fisies gedreig het oor sy seun nie eerstespan speel nie.

▪ In die OP is alle wedstryde van ondermeer Klipfontein en Kowie vroeër al gekanselleer oor geweld teenoor wedstrydbeamptes, en Jeffereysbaai kon nie voortgaan met tuiswedstryde nie.

Die Jefferysbaai-straf het gevolg nadat drie spelers van hul teenstanders, PE Harlequins, met messteke gehospitaliseer is.

Hoeveel jong spelers, op skolevlak en nie nét by die betrokke oortredende klubs nie, maar by ALLE klubs, kan nou in die OP nie hul sport uitleef of elke week na wedstryde uitsien nie?

En hoeveel van die klubspelers en senior skolespelers gaan nou aanstaande seisoen nie na die spel terugkeer nie?

Magdom sporte

Die DHL-stadion in Kaapstad (Foto: Hansie Linde. )

Hoeveel van ons sewesrugby se volgelinge weet hoe Wêreldrugby se toernooistruktuur gaan verander en ook waar die toernooi voortaan gespeel sal word? Kaapstad is gelukkig as ʼn toernooiveld behou.

En hoeveel lesers weet, soos ek ʼn maand gelede voorspel het, van spelers van Nieu-Seeland en/ of Australië in spanne van die Suidsee-eilande wat nou reeds werklikheid geword het en wat nog verder sal toeneem soos die Wêreldbekertoernooi nader kom?

Dit sal veral Fidji en Samoa wees wat met ʼn verrassingskeuse van ʼn voormalige All Black en/ of Wallaby vorendag kom.

  • Intussen word tientalle “vriendskaplike” toetse deur elke land gespeel wat aan oor net meer as vyf weke aan rugby se Wêreldbekertoernooi in Frankryk gaan deelneem.
  • Wayde van Niekerk, na sy besering in ʼn raakrugby-“voorwedstryd” op Nuweland in 2017, is weer op koers om die voorste atleet in die 400 m te word – en wie weet, dalk sy wêreldrekord van 2016 in die Olimpiese Spele te verbeter. Akani Simbine is ook reeds weer naby sy beste in die 100 m.

Suid-Afrika se vroue is tot die kerngroep van Wêreldrugby se sewes toegelaat. Ons vroue se vyftiens is Afrika-kampioene.

Die afgelope naweek het Tatjana Schoenmaker in die Wêreldkampioenskap se 200 m-borsslag die goud gewen en die titel by haar Olimpiese goud gevoeg nadat sy vroeër ook ʼn onverwagse silwermedalje in die 100 m-borsslag in die byeenkoms in Japan gewen het.

Daar was vanjaar daarby die nuwigheid van geldrugby vir vroue, met die Bulls wat sy gekontrakteerde Daisies dieselfde as sy gekontrakteerde mans betaal. Die Daisies het tot dusver al tien hul wedstryde met bonuspunte gewen, met 423 punte vir en slegs 33 teen en 87 drieë teen net ses gedruk.

Die SWD Eagirls en die Vrystaat se vrouespan speel Saterdag in die Eersteliga se eindstryd in Bloemfontein om te bepaal wie aanstaande jaar bevorder sal word.

Die Banyana Banyana speel in die sokkerwêreldbeker vir vroue in Nieu-Seeland en Australië.

Boland se nuwe borge

Die Boland het 74% van sy aandele aan aandeelhouers (Patrice Motsepe en Johann Rupert) verkoop. Hierdie unie met 212 klubs (en dit sluit nie die sowat drie spanne per klub in nie!) sal nou onder die (uiteindelike!) goeie uniebestuur en met die genoemde finansiële inspuiting, weer ʼn krag kan word.

Krieket

Quinton de Kock op volle vaart. (Foto: Twitter.)

Daar is boonop die buitengewone toename in vele kompetisies en reekse van ander sporte as rugby oor die hele wêreld, soos ondermeer die T20-reeks in die VSA waaraan ʼn hele klompie Suid-Afrikaners en ander internasionale sterre deelneem om dié soort krieket daar te vestig – Suid-Afrikaanse spelers soos Faf du Plessis, Quinton de Kock, David Miller, Dwaine Pretorius, Gerald Coetzee, Kagiso Rabada, Tristan Stubbs, Wayne Parnell, Dewald Brevis, Rusty Theron en Heinrich Klaassen.

De Kock het gesorg dat sy span, die Seattle Orcas, Sondag na die Major Cricket League se eindstryd deurdring met 88 van net 50 balle wat 10 viere en vier sesse ingesluit het.

In die Orcas se vorige wedstryd het Klaassen sy span tot oorwinning oor MI New York gevoer met ʼn onoorwonne 110 van net 44 balle.

Daar is ook natuurlik heelwat sterre van ander voorste krieketlande se toetsspanne en T20-reekse wat aan die VSA-nuutjie deelgeneem het, soos ondermeer Devon Conway, David Wiese, Trent Boult, Marcus Stoinis, Mitchell Santner en vele ander. En dink net, hulle word in VSA-dollars betaal!

  • Suid-Afrika se uitsoekspelers wat in Kaapstad in die eindstryd van die vroue se Wêreldbeker teen Engeland verloor het, speel nou oor die hele wêreld heen in die verskeie beroepspanne.
  • Toetskrieket se toekoms word toenemend bedreig en internasionale eendag-wedstryde sal ook teen die T20 se mik-en-moker se groot geld minder belangrik word. Maar die stryd om die Asse, het uitstekende krieket opgelewer.

Nuwe rugbykompetisies

Vanjaar is twee nuwe rugbykompetisies aangekondig wat Suid-Afrika se voorste junior spelers sal raak.

  • Die jongste, boonop op internasionale vlak, is die nuwe o.20-reeks van die vier Rugbykampioenskap-lande: Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Argentinië en Australië. Dit is ʼn betekenisvolle skuif wat sal toesien dat die vier Sanzaar-lande op gelyke voet met die Sesnasies-lande aan die jaarlike Rugbykampioenskap kan deelneem.

Die ses spanne in hulle toernooi wat natuurlik jare al op o.20-vlak (en nou ook skolevlak) aan die Sesnasieskompetisie deelneem, het vanjaar weer by die Wêreldtoernooi in die Wes-Kaap met goeie samespel en ʼn kennis van wie hul beste spelers is by die toernooi van vyf wedstryde in die toernooi in die Kaap opgedaag. Drie van die vier spanne in die halfeind was uit die Sesnasiesgroep: die wenner Frankryk, Ierland en Engeland, met Suid-Afrika die vierde span.

Frankryk was indrukwekkend toe hy die Iere in die eindstryd verniel het. Die Junior Bokke het Engeland om die derde plek geklop.

  • Die ander nuwe kompetisie is dié wat deur die Blou Bulle Rugbyunie en UXi Sports se International Rugby Institutes geïnisieer is.

Dit is ʼn sinvolle oorgrens-klubkompetisie vir o.20-spanne wat nou met uitspeelrondes begin het.

Die reeks wedstryde, met o.20-klubs uit drie streke, Noord (klubs van die Blou Bulle, Leeus, Luiperds, Pumas), Suid (WP-klubs) en Sentraal (ondermeer Griekwas en Vrystaat) wat onderling in hulle eie groep speel voor wedstryde teen die ander groepe se bestes, se kwart- en halfeindstryde word op 23 en 30 September gespeel.

Die Blou Bulle word deur Tuks, Naka Bulle en Centurion verteenwoordig in die wedstryde tussen die drie streke.

  • Steeds op junior rugby-vlak is daar by ons die nasionale o.21-Beker- en Skildreeks wat op 26 Augustus begin. Dit as’t ware die Curriebeker vir Suid-Afrika se o.21s waar ʼn paar toekomstige sterre hul talente verder ten toon kan stel.
  • Die junior weke soos die Cravenweek en die Grant Khomoweek is ook uitgebrei na dogters.

Netbal se Wêreldkampioenskap

Izette Griesel in aksie teen Trinidad en Tobago. Die Proteas het die eilandspan met 69 – 28 gewen. (Foto: Twitter/Netball SA)

En so van vroue gepraat: Netbal se Wêreldkampioenskap begin Vrydag in Kaapstad. Dit is die tweede gewildste sport in Suid-Afrika, hoewel hierdie getal van meer as twee miljoen speelsters gegrond is op spelergetalle wat munisipaliteite bekendgemaak het.

Daar is byna 20 000 geregistreerde klubspelers en die skole se spelers raak-raak aan 400 000.

Netbal SA gaan nou daadwerklik strukture en formele klubs op die been probeer bring in die ongestruktureerde netbal in die land se vele munisipaliteite.

Suid-Afrika het goed weggespring en was volgens die gradering hoogstens ʼn goeie buiteperd. Australië, wat al elf keer die toernooi gewen het, is die gunsteling. Volgens beroepwedders het ons netbalspan die vyfde beste kans gehad om die titel te wen, met Australië, Jamaika, Nieu- Seeland en Engeland wat volgens die wedders die gunstelinge was om die halfeind te haal en ook om, in daardie volgorde, die beste kans het om die toernooi te wen.

Van die baie ander sporte en byeenkomste

Die Tour de France is pas verby en Ashleigh Moolman Pasio van Suid-Afrika het in haar eerste deelname ʼn baie goeie vyfde plek behaal.

  • Oor die hele wêreld, en ook in Suid-Afrika, het boks ʼn nuwe asem gekry; ons manshokkiespan het gekwalifiseer om in die internasionale Hokkiefederasie se beroepsreeks vir 2023/24 te speel, maar die geld het ontbreek om deel te neem; daar is tientalle rugbywedstryde wat ter voorbereiding vir die Wêreldbeker plaasvind; uitstekende vertonings is in die Diamant-atletiekliga deur wêreldsterre gelewer; sokker se Wêreldbeker vir vroue vind tans plaas; vir sokkerliefhebbers is daar in Europa en in Suid-Amerika reekse waaruit hulle kan kies en keur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Wat van al die tennis ook? Met Lloyd Harris, Kevin Anderson en Isabella Kruger. Het gedink die artikel sal darem melding maak van ons trots: Dricus du Plessis. Of is gemengdevegkuns nie ‘n sport nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.