Mening: Uitblinkervertonings, maar ook teleurstellings

Die Proteas het nóg ’n toets op Lord’s gewen. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Die afgelope twee, drie maande het vir ʼn hele paar uitblinkvertonings deur Suid-Afrikaanse sportspanne en ook individue gesorg. Daar was aan die ander kant, soos dit maar in sport gaan, ook ʼn paar teleurstellings en hartseer oomblikke.

Ongelukkig is daar ook gevalle waar die administrateurs/ keurders nie hul werk gedoen het nie, wat grootliks tot ons powere vertonings by die afgelope Statebondspele bygedra het. Ek wy later oor die gesukkel in Birmingham uit.

Die blinkste spanvertonings die afgelope ruk was dié van die Blitsbokke, wat ná ʼn insinking in die jaarlikse sewesreeks weer op hulle allerbeste was en die goue medalje by die Statebondspele gewen het; die Springbokke wat die All Blacks in die eerste toets verrinneweer het; en die prag-oorwinning van ons krieket-Proteas wat Engeland op hul krieketheiligdom, Lords, in die eerste toets van die drietoets-reeks oorrompel het.

(Terloops, sedert 1965 het Suid-Afrika vyf van die agt toetse teen Engeland op Lords gewen, net een verloor, met twee wat onbeslis was.)

ʼn Mens hoop dat Dean Elgar-hulle, met die besef dat hul die skietgoed het, nie die intensiteit in die tweede toets sal verslap nie. Die gevaar van oorgerustheid is maar altyd teenwoordig en het die Bokke die tweede toets teen die All Blacks gekos.

Muller du Plessis in aksie (Foto: Paul ELLIS/AFP)

Ondanks die Blitsbokke se uitstekende reeks vertonings in Birmingham, waar Fidji met 31-7 in die eindstryd geklop is, is daar tog ook so ʼn effense onrustigheid. Kan hulle dit weer die naweek in Los Angeles doen sonder die beseerdes – die spelbrekers Selvyn Davids en Ronald Brown asook Christie Grobbelaar en Mfundo Ndlovo?

Dis ʼn kopspeletjie wat hulle moet oorkom. Hulle plaasvervangers, Branco du Preez, Darren Adonis, Ryan Oosthuizen en Shilton van Wyk, is nie groentjies nie en kom immers uit dieselfde oefenstal as die beseerdes.

▪ Nog ʼn uitstekende vertoning was die van die Junior Springbokke in die toernooi waaraan die Sesnasies se spanne plus die Junior Bokke en Georgië in Italië deelgeneem het. Bafana Nhleko se span het die eindstryd teen Wallis oortuigend gewen met 47-27.

Teleurstellende Statebondspele

Hartseer uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt, was die afgelope Statebondspele in Birmingham in sy geheel.

Dit is die minste medaljes wat nog gewen is sedert 1994, toe Suid-Afrika ná sy skorsing tot die Spele hertoegelaat is en net 11 medaljes, insluitende twee goud, gewen het. Die SA-span het toe 12de geëindig.

Sedert 1994 was die vertonings soos volg:
1994 (11 medaljes, insluitende 2 goud, 12de plek)
1998 (34 medaljes, insluitende 9 goud, 11de plek)
2002 (46 medaljes, insluitende 9 goud, 6de plek)
2006 (38 medaljes, insluitende 12 goud, 5deplek)
2010 (33 medaljes, insluitende 12 goud, 6de plek)
2014 (40 medaljes, insluitende 13 goud, 7de plek)
2018 (37 medaljes, insluitende 13 goud, 6de plek)
2022 (27 medaljes, insluitende 7 goud, 9de plek)

Vanjaar se negende plek is dus ook die laagste wat Suid-Afrika sedert die terugkeer-byeenkoms in 1994 op die medaljetabel geëindig het.

Tatjana Schoenmaker Lara van Niekerk nadat hulle onderskeidelik silwer en goud in die 100 m-borsslag gewen het (Foto: Andy Buchanan/AFP)

 Swem het vir die grootste oes gesorg en 11 van die 27 medaljes gewen, insluitende vier goues deur Lara van Niekerk (twee), Tatjana Schoenmaker en Pieter Coetzee. Daar was ook nog vier silwer en drie brons medaljes in die swembad.

Die ander drie goue medaljes is gewen in atletiek in die T11/12 100 m (vir atlete met sigprobleme) deur Ndomzi Ntutu, deur Michaela Whitebooi (vroue-judo) en natuurlik die Blitsbokke.

Die grootste teleurstelling was die atletiek, die netbalspan wat sesde was en die vrouehokkiespan wat nie naastenby die gehalte gelewer het wat hulle op die Olimpiese Spele in 2021 uitgestal het toe hulle die uitspeelronde gehaal het nie.

Die mans het egter verras en het om die brons uitgespeel, maar verloor.

Atletiek, soos altyd die fokus by die internasionale byeenkomste, het vir Suid-Afrika net vyf medaljes opgelewer. Ntutu, wat die genoemde T11/12 gewen het, het vir die enigste goue atletiekmedalje gesorg.

Charl du Toit, wat met serebraal gestremdheid gebore is, en Akani Simbine het die twee silwer medaljes in die 100 m gewen en Zeney van der Walt en Jovan van Vuuren het albei brons in onderskeidelik die 400 m-hekkies en die verspring gewen. (Du Toit het in 2016 twee goues by die Olimpiese Spele gewen.)

As maatstaf vir Suid-Afrika se ondergemiddelde atletiekvertoning, is daar Indië wat allermins bekend is as ʼn atletiekland. Tog het hulle ʼn goue medalje, en ook vier silwer en drie brons medaljes in atletiek gewen.

Hulle totale medalje-oes was 61 en hul was sesde op die medaljetabel, teenoor Suid-Afrika se negende plek en net 27 medaljes.

Suid-Afrika se 27 medaljes (7 goud, 9 silwer, 11 brons) steek opvallend af teen mindere sportlande soos Skotland (51) en Wallis (28), met Maleisië in die tiende plek met 23 medaljes.

Australië (178 medaljes, met 67 goues) en Engeland (176 met 57 goues) het die beste gevaar.

Vaar ons juniors regtig goed?

Nou wat hou die toekoms vir Suid-Afrika by die groot byeenkomste soos die Wêreldkampioenskappe, die Olimpiese Spele en die Statebondspele in?

In Colombië het ons juniors by die o.20 Wêreldatletiekkampioenskap (let wel, nie net teen Statebond-teenstanders nie) ook maar so-so gevaar en vyf medaljes gewen. Daarvan was twee deur Miné de Klerk met goud in die gewigstoot en brons in die diskusgooi. Lythe Pillay het die 400 m gewen, Brian Raats was tweede in die hoogspring en Benjamin Richardson derde in die 100 m.

Die SA juniors was vyfde op die medaljetabel.

Boonop het van die atlete in Colombië sommer baie, baie swak by hul teenstanders afgesteek.

Die toekoms

 Die vraag is hoeveel van die junior medaljewenners en van die ander 0.20-atlete wat ten minste darem mededingend was, sal op senior vlak ook presteer?

Die geskiedenis wys dat weinig van die land se beste jong atlete later óf deurbreek óf as seniors hul atletiek ernstig beoefen.

Miljarde rand word op voetsoolvlak in jong atlete se ontwikkeling ingepomp, maar solank ʼn landloopnommer vir o.10s oorgehardloop moet word by ʼn skolebyeenkoms om vir WP-kampioenskappe te kwalifiseer en daar by twee ander landloopnommers boonop verkeerde roete-aanduidings was, sal afrigters en ouers se samewerking nie genoeg vir sukses wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.