MotoGP: Sesde plek vir Brad Binder, ook vir broer Darryn

Brad Binder. Foto: Instagram

Ná die opwinding van twee weke gelede toe Brad Binder (KTM) uit die bloute die Oostenrykse MotoGP gewen het, was dit ʼn effense teleurstelling vir sy plaaslike ondersteuners toe hy Sondagmiddag op Silverstone sesde in die Britse Grand Prix geëindig het.

Vroeër het sy jonger broer, Darryn, ook sesde in die Moto3-ren geëindig, terwyl albei broers sesde op hul onderskeie kampioenskapspuntelyste is.

Die MotoGP is deur Fabio Quartararo (Yamaha) gewen. Dit was die Fransman se vyfde oorwinning vanjaar en hy het ook sy voorsprong op die kampioenskapspuntelys vergroot.

Alex Rins (Suzuki) was tweede, die eerste keer dat hy sedert verlede jaar se Europese MotoGP weer op die podium kon staan.

Aleix Espargaro (Aprilia) was derde om aan sy span sy eerste podiumplek in MotoGP te besorg.

Hy is gevolg deur Jack Miller, Pol Espargaro en dan Binder.

Binder het 12de weggespring en gaandeweg tot sesde opgeskuif, waar hy geëindig het.

Quartararo (206) is voor op die puntelys, gevolg deur Joan Mir (141) en Johann Zarco. Binder (108 punte) is sesde.

* Die Moto3-ren is deur Romano Fenati gewen, met Niccolo Antonelli tweede en Dennis Fogia derde.

Die jong Portugese jaer Pedro Acosta (201) is steeds voor op die puntelys, gevolg deur Sergio Garcia (155) en Fenati (132).

* Die volgende Grand Prix is op 12 September in Aragon, Spanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hardekwas ·

Pedro Acosta is Spaans, nie Portugees. Geluk aan Binder broers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.