Opskuddings by Aussie Ope

Raven Klaasen is uit die Aussie Ope geskakel. Foto: Facebook.

Die helde tuimel by die Australiese Ope soos konings op ’n skaakbord.

Suid-Afrika se dubbels-maestro, Raven Klaasen, en sy Kiwi-spanmaat, Michael Venus, het teen die span van Leonardo Mayer en Joao Sousa vasgeval.

Die sesde gekeurde dubbelspaar het met 6-4, 7-6 vasgeval teen ʼn ongekeurde duo. Klaasen was Suid-Afrika se laaste hoop in die toernooi nadat Kevin Anderson en Lloyd Harris reeds verlede week uitgeskakel is.

Dan moes die verdedigende kampioen, Roger Federer, ook die knie teen Griekeland se Stefanos Tsitsipas buig. Die Switserse ster het in vier stelle (6-7, 7-6, 7-5 en 7-6) teen die Griek verloor. Hy het gepoog om sy sewende Aussie Ope-titel te wen.

Tsitsipas het hierna teen Roberto Bautista Agut te staan gekom en hom met 7-5, 4-6, 6-4, 7-6 (7/2) verslaan om sy eerste Grand Slam-halfeindstryd te haal.

Roger Federer het ook die trekpas gekry. Foto: Facebook.

Die 37-jarige Federer het egter aangedui dat hy vir die eerste keer sedert 2015 in die Franse Ope op Roland Garros in aksie sal wees. Hy het die vorige toernooie in dié Grand Slam weens beserings en ’n selfopgelegde kleisabbatsjaar misgeloop.

Van die ander groot name wie se koppe gerol het, is Marin Cilic (2018 se finalis), Maria Sharapova, Angelique Kerber en Caroline Wozniaki.

Intussen stoom Rafael Nadal, Serena Williams en Kie. voort. Nadal kom in die kwarteind teen Frances Tiafoe te staan. Williams het haar plek in die kwarteind verseker nadat sy met die wêreld se voorste speler en topgekeurde, Simona Halep, afgereken het. Sy het met 6-1, 4-6, 6-4 geseëvier. Williams kom volgende teen Karolina Pliskova te staan.

Die wêreld se no. 1-manspeler, Novak Djokovic, speel môre teen Japan se Kei Nishikori in die kwarteindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.