Proteas slaag drukkoker-toets in Kaapstad

Imran Tahir. Foto: Cricinfo.

Dinsdagaand op Nuweland het David Miller en Imran Tahir iets gedoen waaraan die meeste Suid-Afrikaanse krieketondersteuners nie werklik gewoond is nie: Hulle het koelkop gebly in ’n druksituasie om te sorg dat die Proteas met nege lopies wen.

Met die eerste T20-kragmeting tussen die Proteas en Sri Lanka wat ná ’n gelykop uitslag in ’n Super-boulbeurt oorgespoel het, het dié twee spelers gewys dat hulle volgens die oudafrigter van die Britse en Ierse Leeus, Ian McGeechan, se filosofie kan speel, naamlik “Brein in die vrieskas, lywe in die oond”.

Die duo het koelkop gebly in die Super-boulbeurt – ’n T20-fenomeen waar jy basies berserk met die kolf moet raak om in een boulbeurt soveel moontlik lopies aan te teken.

Miller het eerstens ’n ses en ’n vier van Lasith Malinga se boulwerk geslaan om 14 lopies vir SA in die Super-boulbeurt aan te teken. Daarna het Tahir – wat ná die komende Wêreldbeker uit eendagkrieket gaan uittree – die lopiekrane toegedraai om Sri Lanka tot slegs vyf lopies te beperk.

Hoewel T20-krieket nie die beste voorbereidingsmaatstaf vir die Wêreldbeker is nie, is die wyse waarop die Proteas die druk hanteer het, meer werd as ’n oorwinning van 120 lopies vir Ottis Gibson en kie.

Die Proteas is immers bekend daarvoor dat hulle aan die drukdoepa van ’n spannende wedstryd verstik. Dink net aan die Wêreldbekers in 1996, 1999, 2003, 2007 en 2011.

Maar daar is tog ’n paar kere – soos gisteraand – waarin die Proteas die belangrike oomblikke van ’n senutergende wedstryd gewen het.

Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Herschelle Gibbs. Foto: Facebook.

    Die 438-wedstryd in 2006: Met Ricky Ponting (164) en Mike Hussey (81) wat amok onder die Proteaboulers op die Wanderers gesaai het, moes Graeme Smith en sy kolwers ’n wêreldrekord-lopiejaagtog van 435 van stapel gestuur het.

Smith (90) en Herschelle Gibbs (175) het egter skitterend om die tweede paaltjie gekombineer en te danke aan hul warrelwind-vennootskap het die Proteas binne trefafstand gebly.

Mark Boucher se onoorwonne vyftigtal het die wedstryd vir Suid-Afrika gewen en die 438-wedstryd word wyd en syd as een van die beste eendagkragmetings ooit bestempel.

  • In 2006 het die Proteas – met Justin Kemp voor in die koor – 274/7 aangeteken ná hulle op 74/7 gesteier het.

Kemp het eers goed met Shaun Pollock (33) gekombineer en toe ’n vennootskap van 138 lopies met Andrew Hall (56*) geniet.

Kemp (100*) het in die laaste boulbeurt sy eerste (en enigste) eendaghonderdtal geslaan en die Proteas het die wedstryd gemaklik gewen.

Justin Kemp. Foto: Cricinfo.

Nog ’n voorbeeld is Miller en Andile Phehlukwayo se skitterende vennootskap om ’n telling van 370+ teen Australië ’n seisoen of wat gelede te jaag.

Jonty Rhodes het vroeër vanjaar in ’n onderhoud met Maroela Media gesê die chokers-etiket sal om die Proteas se nekke bly hang, totdat hulle met die silwerware huis toe keer.

“Ek het in vier Wêreldbekers gespeel (1992, 1996, 1999 en in 2003) en dit het nie een keer vir my gevoel asof ons gechoke het nie. Dit is net krieket, en wanneer jy die uitklopwedstryde haal, is elke span gevul met wedstrydwenners.”

Die Proteas sal hoop dat hulle later vanjaar met ’n paar koelkop-wedstrydwenners in Engeland sal land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanL ·

Kyk ek hou ook nie van die “choke” etiket nie. Maar gisteraand het ons tog eerstens die wedstryd weggegooi en daarna koelkop gebly en gewen.

Die wyse waarop Polokwane, Rabada en Steyn gekolf het, is kommerwekkend. Ons moes toe al die wedstryd gewen het.

Welgedaan egter aan Miller en Tahir wat goedgedoen het in Super boulbeurt “wedstryd”.

Vraagteken ·

Dit was ‘n grap! Waar in jou lewe lag kolwers as dinge so verkeerd gaan??? Ek sal vir jou sê; in Suid Afrika! Dis hoekom ons chokers is, want ons is nie ernstig genoeg nie.

Dit laat my aan 4 jaar terug dink waar Dale Steyn lekker gelag het toe NS ons uitgeskop het by die wêreldbeker. Die ander halfde (mense soos Morné Morkel en AB) het gehuil toe dinge so skeef geloop het. Halfde van ons span will wen, en die ander helfde voel niks en is net daar vir geld.

Laaste punt, Otis Gibson moet maar gaan. Ek weet nie hoekom is hy daar nie, want sy rekord is ongelooflik sleg hier by ons.

PR ·

In hierdie uiters negatiewe wereld waar ons woon is sport ‘n ligpunt. Vir die tyd (na beurtkrag) kon ek total vergeet van als wat sleg is. Die passie en trots van Imran- wie kan dit beter demonstreer as hy – die hantering van uiterste druk deur David en Imran, die genot van die skare – alle rasse, almal wys emosies van blydskap, uiterste spanning en ekstase. Almal lyk en is gelukkig. Kan die politici asseblief hierna kyk en nie krap waar dit nie juk nie.

Judge Dredd ·

Was nie eers ‘n uitklop wedstryd.

Kyk maar – ons sal goed vaar in groep fase – maar die eerste uitklop rondte dan verloor ons.

bolla ·

Briljante super-boulbeurt van Tahir om die wedstryd te wen. Net 5 lopies afgestaan en 2 daarvan was ekstras van wydlopers so eintlik het hy net 3 lopies van sy 6 wettige aflewerings afgestaan. Dit wil gedoen wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.