Aasvoëls sirkel om beleërde Eddie

Australië se Eddie Jones. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Die Wallabies kan vir die eerste keer in die span se rugbygeskiedenis in die groepfase van ʼn Wêreldbeker-toernooi uitgeskakel word.

Die Aussies het Sondagaand met 40 – 6 teen Wallis in Lyon verloor; hul sewende nederlaag in agt toetse vanjaar en die mediakollig is beslis op Eddie Jones.

Die 63-jarige breier het vroeër vanjaar die Wallabies se afrigtersleisels vasgevat nadat die land se rugbybeheerliggaam vir Dave Rennie in die pad gesteek het.

“Die beste afrigter ter wêreld is op pad huis toe. Hy sal aan die stuur van die ikoniese Wallabies wees terwyl hy ook oor die Wallaroos-program sal toesig hou,” het Hamish McLennan, Rugby Australië se uitvoerende hoof, destyds gesê.

Maar die Lyon-loesing kan een van die laaste spykers in Jones se afrigtersdoodskis in Australië wees.

“Ek wil eerstens vir al die Australiese rugbyondersteuners om verskoning vra. Ons speel nie goed genoeg wanneer dit saak maak nie en ek aanvaar volle aanspreeklikheid,” het die beleërde Jones gesê.

Hy het vroeër wenkbroue laat lig toe hy hardebaarde soos Quade Cooper uit sy Wêreldbeker-groep gelaat het. Hy het toe die versekering gegee dat die onervare spelers oor die vermoë beskik om suksesvol te wees.

“Ons is ’n jong span en die ouens is nou bitter teleurgesteld. Hulle het hul bes op die veld probeer, maar op die oomblik is ons doodeenvoudig net nie bestendig genoeg om ander spanne onder druk te plaas nie. Ons doen belowende dinge en dan val alles net plat.”

Volgens Jones is hy nog 100% verbind om die Wallabies by te staan.

“Ek is ’n trotse Australiër en ek haat dit om die sukkelvertonings van Australiese rugby te sien; veral onder my toesig. Dit is nie net die Wallabies wat indringend moet verbeter nie, maar ook die hele rugbysisteem in die land. Dit is hoegenaamd nie ’n verskoning nie, maar daar moet selfondersoek gedoen word.”

Groep C:

  1. Wallis: 14 punte ná drie wedstryde
  2. Fidji: 6 punte ná twee wedstryde
  3. Australië: 6 punte ná drie wedstryde
  4. Georgië: 2 punte ná twee wedstryde
  5. Portugal: 2 punte ná twee wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Ai , arme Eddie. Maar hy wil mos eksperimenteer sonder Foley en Quade Cooper. Hy kon selfs James O Connor nadertrek. Dalks nie te slim om met sy ” jong ” span te reis nie.

SwartBees ·

EK voel jammer vir ou Eddie. In sy era het hy nogal amog gesaai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.