Ag nee, Lions!

Edwill van der Merwe druk een van die Lions se drieë. (Foto: GB Jordaan)

As jy ooit gewonder het hoe om ʼn voorsprong van 36 – 21 op die rugbyveld weg te smyt (terwyl jou teenstanders ook sonder twee geelkaartspelers moes klaarkom), hoef jy vandag net na die Lions se Verenigde Rugbykampioenskap-tweestryd teen Leinster op Ellispark gekyk het.

Die Johannesburgers, wat vir die grootste gedeelte van die wedstryd die septer teen ʼn jong Leinster-span geswaai het, het skielik begin foute maak en gesukkel om hul stempel op die kragmeting af te druk.

Die uiteinde: Leinster wen met 39 – 36 om sy houvas op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer te verstewig.

“Ons het die wedstryd op ʼn silwer skinkbord weggegee,” het ʼn teleurgestelde Marius Louw na afloop van die kragmeting gesê.

Volgens die Lions se kaptein en senter het sy span met sy afrondingswerk gesukkel en hopeloos te veel strafskoppe afgestaan in die tydperk waar die besoekers met net 13 spelers op die veld moes klaarkom.

Gianni Lombard. (Foto: GB Jordaan)

Tog was daar aanvanklik hope redes vir die tuisspan se ondersteuners om te glimlag.

Gianni Lombard het ʼn barshou in die nommertientrui gespeel, terwyl Francke Horn en Edwill van der Merwe op hul aanvallende beste was.

Die aangeewerk in aanloop tot Louw se drie in die eerste helfte het bloot net die feit onderstreep dat die Lions hierdie wedstryd op ʼn drafstap moes gewen het.

Maar talent en veerkragtigheid bruis sterk deur die Leinster-spelers se are; ongeag hul ouderdom en hulle het vriend en vyand met hul merkwaardige terugvegpoging op die ikoniese Ellispark beïndruk.

  • VRK-punteleer (vóór die Stormers se wedstryd teen Munster):
  1. Leinster: 79 punte
  2. Ulster: 64 punte
  3. Stormers: 61 punte
  4. Glasgow: 58 punte
  5. Munster: 48 punte
  6. Bulls: 48 punte
  7. Sharks: 46 punte
  8. Connacht: 44 punte
  9. Benetton: 41 punte
  10. Lions: 40 punte
  11. Cardiff: 39 punte
  12. Ospreys: 35 punte
  13. Scarlets: 34 punte
  14. Edinburgh: 33 punte
  15. Dragons: 19 punte
  16. Zebre: 10 punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.