Akker dra no. 2-trui teen Italianers

Akker van der Merwe in aksie vir die Lions. Hy speel deesdae sy rugby vir die Bulls in Pretoria. (Foto: GB Jordaan)

Akker van der Merwe sak Saterdag in die middel van die Bulls-skrum wanneer die Pretorianers teen Zebre in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Italië speel.

Die 32-jarige speler was op die plaasvervangersbank vir die Bulls se eerste twee kragmetings, maar hy sal nou Johan Grobbelaar se skoene in die opdrafspan volstaan.

Hy gaan saam met Simphiwe Matanzima en Wilco Louw in die voorry sak.

Van der Merwe het ʼn paar maande terug ʼn kontrak van drie jaar met die Pretoriase rugbyspan onderteken nadat hy 70 wedstryde vir die Sale Sharks in Engeland gespeel het. Hy was ook al vantevore in aksie vir die Luiperds, Lions en Sharks, terwyl hy drie keer vir die Springbokke uitgedraf het.

Die Bulls het verlede naweek met sewe punte teen Ulster in Belfast vasgeval en hulle sal weer so gou moontlik op die wenpad teen die Italiaanse klub wil kom.

In Devon Williams, Sebastian de Klerk, Stedman Gans, Sergeal Petersen en Johan Goosen het Jake White ʼn gevaarlike agterlyn vir die wedstryd gekies, terwyl die opwindende Chris Hanekom saam met Elrigh Louw en Marcell Coetzee die lostrio vorm.

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Devon Williams (heelagter), Sebastian de Klerk (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), David Kriel (binnesenter), Sergeal Petersen (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Chris Hanekom (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Janko Swanepoel (slot), Wilco Louw (stut), Akker van der Merwe (haker) en Simphiwe Matanzima (stut). Plaasvervangers: Johan Grobbelaar, Dylan Smith, Mornay Smith, Reinhardt Ludwig, Nizaam Carr, Embrose Papier, Chris Smith en Wandisile Simelane.

  • VRK-punteleer:
  1. Stormers: 10 punte ná twee wedstryde
  2. Connacht: 9 punte ná twee wedstryde
  3. Ulster: 9 punte ná twee wedstryde
  4. Edinburgh: 8 punte ná twee wedstryde
  5. Munster: 7 punte ná twee wedstryde
  6. Bulls: 6 punte ná twee wedstryde
  7. Glasgow Warriors: 6 punte ná twee wedstryde
  8. Benetton: 6 punte ná twee wedstryde
  9. Ospreys: 6 punte ná twee wedstryde
  10. Cardiff: 5 punte ná twee wedstryde
  11. Leinster: 5 punte ná twee wedstryde
  12. Zebre: 4 punte ná twee wedstryde
  13. Lions: 3 punte ná twee wedstryde
  14. Dragons: twee punte ná twee wedstryde
  15. Sharks: geen punte nie ná twee wedstryde
  16. Scarlets: geen punte nie ná twee wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.