Alberts, Visagie terug in Leeu-span

Willem Alberts. Foto: Facebook.

Willem Alberts, die hardebaard-maanhaar, is in die Leeus se beginspan ingesluit vir hul kragmeting Saterdag met Ulster.

Alberts het vanaf 2010 tot in 2016 in 43 toetse vir die Springbokke uitgedraf en is op 38-jarige ouderdom steeds ’n yster soos van ouds.

Sy ervaring van honderde eersterangse wedstryde sal die Leeus se jong welpies tot voordeel strek wanneer hulle Saterdagmiddag op Ellispark koppe stamp met ’n gedugte Ierse span.

Die Leeus ry op die kruin van die golf ná drie agtereenvolgende oorwinnings oorsee in die Verenigde Rugbykampioenskap en niemand kan hulle blameer nie indien hulle stert in die lug met vertroue uitsien na die stryd teen Ulster.

Alberts was sedert Februarie op die krukkelys weens ’n kniebesering, maar is reeds geruime tyd weer reg om na aksie terug te keer.

Saterdag kry hy die kans om op slot langs die Leeus se jong kaptein Reinhaard Nothnagel te brul en te wys waarom hy in sy Bok-dae gevrees is.

In nog ’n verandering in die agttal keer Jaco Visagie op haker terug in die plek van PJ Botha. Dié skuif bring ook meer ervaring na die voorspelers.

Agterlangs herwin Edwill van der Merwe sy plek op regtervleuel nadat hy die wedstryd teen Edinburgh misgeloop het weens ’n stamp teen die kop.

Die Leeus en Ulster het nog net een keer vantevore kragte gemeet. Dit was 12 maande gelede toe die Iere die Suid-Afrikaners in Belfast met 26-10 verslaan het.

Albei spanne het dié seisoen nog net een wedstryd in die VRK-reeks verloor en die Leeus se visier is op ’n rekord-vierde agtereenvolgende oorwinning gerig.

Dan McFarland se troepe is egter die Leeus se grootste toets tot dusver dié seisoen en die Johannesburgse span sal elke greintjie ondervinding Saterdag nodig hê as hulle as oorwinnaars van die veld wil stap.

Die Leeus se span is:

Andries Coetzee, Edwill van der Merwe, Henco van Wyk, Marius Louw, Quan Horn, Gianni Lombard, Sanele Nohamba, JP Smith, Jaco Visagie, Ruan Dreyer, Willem Alberts, Reinhard Nothnagel (k), Emmanuel Tshituka, Ruan Venter, Francke Horn. Plaasvervangers: PJ Botha, Sti Sithole, Ruan Smith, Pieter Jansen van Vuren, Sibusiso Sangweni, Morné van den Berg, Jordan Hendrikse, Zander du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter9 ·

Indien Alberts langer as 20 minute uithou, is ek bereid om my Skoonma vir ‘n naweek oor te nooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.