All Blacks gee Ierland ʼn rugbyles

(Foto: MICHAEL BRADLEY/AFP)

Vergeet maar van die praatjies dat die All Blacks nie meer ʼn groot faktor in wêreldrugby sal wees nie omdat die Nieu-Seelandse spelers nie meer met Suid-Afrikaanse spanne in die Superrugbyreeks meeding nie.

Wanneer die Nieu-Seelanders boonop op Eden Park in Auckland speel, waar hulle 28 jaar laas verloor het en nou in 47 toetse onoorwonne is, bly hulle byna onstuitbaar, soos die oorwinning van 45-19 (rustyd 28-5) oor Ierland in die eerste van drie toetse gewys het.

Die Iere was binne die eerste paar minute met 5-0 voor, maar die All Blacks het wurgrugby gespeel en byna 200 duikslae uitgevoer om die Iere van hul doellyn af weg te hou.

Die All Blacks het vyf drieë gedruk, waarvan drie in die laaste tien minute van die eerste helfte. Hulle het die Iere in die skrums oorheers en ook vyf keer die Iere van besit in die lynstane ontneem.

As ʼn mens daaraan dink dat die All Blacks onder Covid-19 deurgeloop het en sonder drie spelers (David Havili, Jack Goodhue en Will Jordan), asook twee van hul afrigters, Scott McLeod en Greeg Feek, moes klaarkom, spreek dit boekdele.

(Foto: MICHAEL BRADLEY/AFP)

Die Iere was twee keer oor die All Blacks se doellyn, maar nie een van die drieë is nie toegeken nie omdat hulle die bal op die doellyn verloor het.

Dis was oor volgehoue druk wat die Nieu-Seelanders toegepas het.

Dit sou die eindtelling ’n bietjie beter laat lyk het, maar Ierland het nie genoeg plofkrag gehad om die All Blacks in toom te hou nie.

Die All Blacks het op die ou einde maklik gewen, omdat hulle spelbrekers het, spelers met die X-faktor soos die twee Barrett-broers, Jordie en Beauden, Rieko Ioane, Sevu Reece en Aaron Smith agterlangs.

Voorlangs het Ardie Savea geskitter en met die veteraan Sam Whitelock wat die Iere ontsenu en ontwrig het.

ʼn Vuil speler is hy nie, maar gaan kyk maar hoeveel keer hou hy spelers vas en lê hy aan die verkeerde kant van die losskrums.

Puntemakers:

Nieu-Seeland 42 (28): Drieë: Jordie Barrett, Sevu Reece, Quinn Tupaea, Ardie Savea (2), Pita Gus Sowakula. Doelskoppe: Jordie Barrett (6).

Ierland 19 (5): Drieë: Keith Earls, Garry Ringrose, Bundee Aki. Doelskoppe: Joey Carbery (2).

* In Toyota in Japan het Frankryk, wat sonder die spelers van die Franse Top-14-kampioen Montpellier en Castres toer, die eerste toets teen Japan met 42-23 gewen.

Die Japanners was baie ondernemend en het veral met hul hanteerwerk indruk gemaak, maar teen spanne soos die Franse wat met hul voorspelers oorheers, sal hulle altyd sukkel.

* In Suva in Fidji het die omstrede Israel Folau se terugkeer na toetsrugby slegs 30 minute geduur voordat hy ʼn beenbesering in die toets tussen Tonga en Fidji opgedoen het.

Folau, wat voorheen vir die Wallabies gespeel het, speel nou vir Tonga.

Fidji het die toets met 36-0 gewen.

* Italië het Vrydagaand slegs sy derde oorwinning en die eerste keer sedert 1991 vir Roemenië geklop toe hy die toetwedstryd in Boekarest in die Arcul de Triumf met 45-13 gewen het.

Die uitslag moet die rooi ligte vir Roemeniërs laat flikker, wat in Spanje (geskors) se plek vir die Wêreldbekertoernooi in 2023 in Frankryk speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.