All Blacks op hul hoede vir dié Fransman

Frankryk se Antoine Dupont. Foto: Franck Fife/AFP.

Die All Blacks het verlede naweek vir die derde keer in vyf toetse teen Ierland verloor toe hulle met 29-20 in Dublin vasgeval het.

Hulle speel hierna teen Frankryk in Parys en volgens Sam Cane sal hulle veral op hul hoede vir Antoine Dupont wees.

Die 25-jarige skrumskakel is die Fransmanne se kaptein én in Wêreldrugby se speler van die jaar-kategorie benoem.

“Volgens wat ek gesien het, maak hulle baie op Dupont staat om die nodige vonk te verskaf. Sy skrumskakeldiens is uitstekend, terwyl hy ook baie gevaarlik met die bal in die hand is. Sodoende skep hy baie ruimte vir ander spelers omdat al die verdedigers se aandag op hom gevestig is,” het die Nieu-Seelandse flank gesê.

Volgens Cane het die Kiwi’s hul huiswerk oor die Franse gedoen.

“Ek dink die hele span het reeds Frankryk se afgelope paar wedstryde bestudeer. Hulle het ’n dinamiese pak voorspelers wat gereeld oor die voordeellyn kom, terwyl hul agterspelers ook vir hoofbrekens op die aanval sorg.”

Paul Willemse, die Suid-Afrikaans gebore voorspeler, sal saam met Cameron Woki die slotpaar teen die All Blacks wees.

Afskoptyd is Saterdag om 22:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Frankryk: Melvyn Jaminet, Damian Penaud, Gael Fickou, Jonathan Danty, Gabin Villiere; Romain Ntamack, Antoine Dupont (kaptein); Gregory Alldrit, Anthony Jelonch, Francois Cros; Paul Willemse, Cameron Woki; Uini Atonio, Peato Mauvaka en Cyril Baille.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.