All Blacks terug op wenpad, maar dissipline lol steeds

Die All Blacks het ’n moedige Namibiese rugbyspan met 71 – 3 in Toulouse geklop. (Foto: Twitter/All Blacks)

Ná twee agtereenvolgende nederlae is die All Blacks weer terug op die wenpad nadat hulle Namibië met 71 – 3 in Toulouse geklop het.

Die Kiwi’s het 11 drieë gedruk, maar die Namibiërs het ook rede om trots te wees: Hulle het met ʼn moedige vertoning teen die driemalige kampioen vorendag gekom, terwyl hulle ook ʼn hele paar keer tot diep in hul teenstanders se halfgebied gevorder het.

Maar uiteindelik het die All Blacks hopeloos te veel skietgoed gehad en Ian Foster is tevrede met sy span se vertoning.

“Die spelers het hulself goed van hul taak gekwyt en die voorspelers het gesorg dat ons genoeg geleenthede op die aanval gekry het,” het die Nieu-Seelandse afrigter gesê.

Foster wou veral ʼn skrumwerk-verbetering sien en hy meen die Kiwi-voorry verdien ʼn klop op die skouer.

“Ons het goed geskrum en dit het vir ons ʼn stewige grondslag gegee om die spel te dikteer. Dit het ons selfvertroue beslis ʼn welkome hupstoot gegee.”

Tog het hulle steeds 12 strafskoppe teenoor die sewe van die Namibiërs afgestaan, terwyl Ethan de Groot ook koelkas toe gestuur is vir ʼn gevaarlike duikslag.

“Namibië het ons beslis ʼn paar keer onder druk geplaas, maar dit is goed om weer te wen; veral na verlede week se teleurstellende vertoning teen Frankryk,” het Ardie Savea gesê.

Die losvoorspeler het die kapteinskapleisels in Sam Cane se afwesigheid vasgevat en hy meen dat die span indringend na sy dissipline moet kyk.

“Ons het te veel strafskoppe afgestaan wat vir Namibië geleenthede op die aanval geskep het. Ons moet meedoënloos op die rugbyveld wees.”

Die skakelpaar van Cam Roigard en Damian McKenzie het gesamentlik vier van die span se drieë gedruk en veral Roigard se spel het vriend en vyand beïndruk.

Die skrumskakel het binne die bestek van tien minute twee keer die Namibiese verdedigers laat les opsê terwyl sy flinke aangeewerk ook vir hope voorvoetmomentum gesorg het.

  • Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: Cam Roigard (2), Damian McKenzie (2), Leicester Fainga’anuku, Anton Lienert-Brown, Ethan de Groot, Dalton Papali’i, David Havili, Caleb Clarke, Rieko Ioane. Doelskoppe: McKenzie (8).

Namibië: Strafskop: Tiaan Swanepoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.