All Blacks wil kragtoer teen Bokke op Twickers lewer

Die All Blacks en die Springbokke meet volgende week op Twickenham kragte. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Ondanks Brodie Retallick en Shannon Frizell se beserings, het Ian Foster belowe om sy sterkste span vir die opwarmingswedstryd teen die Springbokke op Twickenham te kies.

“Jy wen nie ʼn Wêreldbeker-toernooi deur jou spelers heeltyd in watte toe te draai nie,” het die All Blacks-hoofafrigter gesê.

Die Nieu-Seelanders is tot dusver onoorwonne vanjaar en hulle het reeds ʼn waarskuwing aan die Springbokke uitgestuur toe hulle die Suid-Afrikaners met 35–20 in Auckland verfomfaai het.

Die komende Wêreldbeker-skouspel sal Foster se laaste wedstryde aan die stuur van die All Blacks wees. Hy sal deur Scott Robertson as die Kiwi’s se hoofafrigter vervang word.

Die 58-jarige Foster was verlede jaar omtrent in die spervuur nadat die All Blacks onder meer teen die Springbokke op die Mbombela-stadion en teen Ierland in Nieu-Seeland verloor het.

“Dink ek gereeld terug aan daardie wedstryde? Nee, daar is nou hopeloos te veel om te doen. Daar wag ʼn wonderlike geleentheid op die span – die sleutel tot sukses in ʼn Wêreldbeker-toernooi is om nie ʼn enkele dag te vermors nie.”

Retallick (knie) en Frizell (dyspier) se beserings is weliswaar ʼn terugslag en volgens Foster kan hulle ook Nieu-Seeland se Wêreldbeker-openingswedstryd teen Frankryk misloop.

“Brodie se rehabilitasiewerk vorder flink, maar hy sal die wedstryd teen Suid-Afrika en waarskynlik die een teen Frankryk moet uitsit. Shannon het sy dyspier tydens ʼn oefensessie seergemaak en hy is in ʼn soortgelyke bootjie as Brodie.”

Springbok-afrigter Jacques Nienaber het ook vroeër aangedui dat hy waarskynlik sy sterkste groep vir die Twickenham-tweestryd sal kies.

Hy sal ook hoop dat die span vir sy teleurstellende vertoning in Auckland sal vergoed.

Nienaber het erken dat die Bokke toe hopeloos te veel foute in die eerste 20 minute van die kragmeting gemaak het. Swak dissipline het ook tot strafskoppe gelei en die All Blacks het binne ʼn oogwink ʼn voorsprong van 17–0 geniet.

“Ons het mooi teruggeveg en die spelers het hulself in ʼn posisie geplaas om die wedstryd te wen. Ons was uiteindelik egter nie goed genoeg om dit te doen nie,” het hy destyds gesê.

Die Suid-Afrikaners het weliswaar meer punte in die tweede helfte as hul rugbyaartsvyand aangeteken, maar Nienaber erken dat dit van weinig nut is: ʼn Rugbywedstryd bestaan immers uit 80 en nie net 60 minute nie.

Die Twickenham-opwarmingswedstryd word op 25 Augustus beslis en die aksie sal om 20:30 begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Mens bly maar lugtig vir hierdie All Blacks en die stryd gaan hard wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.