Alldritt ‘waarsku’ spanne oor Dupont

Frankryk se inspirerende Antoine Dupont het met ’n skrumpet geoefen. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Hoewel die Hane deeglik bewus is van die feit dat rugby ʼn kontaksportsoort is, hoef ʼn mens nie ʼn baasspeurder te wees om Grégory Alldritt se tussen-die-lyne-waarskuwing raak te lees nie.

Antoine Dupont is terug op die oefenveld nadat die 26-jarige skrumskakel vroeër in die toernooi sy wangbeen teen Namibië gekraak het.

“Antoine is ʼn intelligente en verstandige mens. As hy vir jou sê dat hy weer kan speel, dan is dit omdat hy heeltemal gesond en fiks is,” het die Franse losvoorspeler gesê.

Hy het egter ook ʼn waarskuwing, as jy wil, vir Frankryk se teenstanders gereed gehad.

“In rugby, wanneer jy ʼn speler se kop tref, dan is dit ʼn rooi kaart. Hy het sy chirurg gesien wat vir hom die groen lig gegee het om weer deel van die aksie te word.”

Vlok Cilliers, Frankryk se skopafrigter, het vroeër aan Maroela Media gesê dat Dupont se terugkeer ʼn groot hupstoot vir die Franse is.

“Sy terugkeer beteken ongelooflik baie vir die spelers. Hy is ons kaptein, ’n uitstekende leier en Wêreldrugby se speler van die jaar,” het die voormalige Springbok gesê.

Tog weet hy dat ander spanne nie noodwendig vir Dupont met handskoene sal hanteer bloot omdat hy van ʼn besering herstel het nie.

“Rugby is ’n kontaksport en daar sal altyd beserings in ’n wedstryd wees.

Alldritt glo dat die Springbokke oudergewoonte met ’n fisieke aanslag vorendag sal kom.

“Hul DNS is geskoei op fisieke rugby; daarom sal ons vir meer as 80 minute met die nodige ingesteldheid moet speel.”

Die twee spanne se vorige kragmeting was in November verlede jaar toe die Suid-Afrikaners geweier het om op die Stade Velodrome te hensop; ondanks Pieter-Steph du Toit se rooi kaart.

“Ons het in Marseille gesien dat die Springbokke nooit tou opgooi nie. Ons is dus gewaarsku. Maar as ’n span is ons nou in die pylvak van die toernooi – die spelers het vir vier jaar hard gewerk en ons wil die wedstryd geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Ek hoop net die skeidsregter en beamptes se oë is wawyd oop, dat hulle nie vir enige Nic White tipe Dupont truuk sal val nie.

piet ·

Ons het nog nie kaarte gekry in hierdie RWB so ver ek kan onthou nie. Ek het net so ‘n gevoelte ons gaan ‘n kaart of 2 in hierdie wedstryd kry. Hoop net nie dis rooi nie.

Willie ·

Ek ruik n rot!
Hier begin die verskonings al klaar dat ons “vuil speel”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.