Amper 40 000 kaartjies reeds verkoop

Die DHL-stadion in Kaapstad (Foto: Hansie Linde. )

Volgens Kaapse rugbybase is daar reeds amper 40 000 kaartjies vir môre se Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd tussen die Stormers en die Bulls op die DHL-stadion verkoop.

Die tuisspan het ongetwyfeld die hef in die hand nadat hy ʼn klomp wedstryde op ʼn streep teen die Pretorianers gewen het.

Tog het Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, vandeesweek daarop gesinspeel dat uitkloprugbywedstryde die speelveld meer gelyk maak. Vorige uitslae het dan nie so ʼn groot invloed op ʼn kragmeting nie.

Deon Fourie. (Foto: Hansie Linde. )

Tog kry die Stormers ʼn definitiewe hupstoot met die terugkeer van die ou strydros Deon Fourie en die blitsige Leolin Zas.

Fourie sal ʼn gedugte lostrio saam met Evan Roos en Hacjivah Dayimani vorm, terwyl Zas ongetwyfeld ʼn driedrukmasjien is.

Daarteenoor het die Bulls ʼn harde hou teen die kaak gekry met die nuus dat VRK-regulasies bepaal dat Marcell Coetzee nie vir die wedstryd in aanmerking kan kom nie.

Kurt-Lee Arendse. (Foto: GB Jordaan)

Luidens die toernooireëls is die losvoorspeler uit die Bulls-groep gederegistreer en sal hy nie toegelaat word om betyds te heregistreer nie.

Elrigh Louw, Cyle Brink en Marco van Staden is dus die lostrio, terwyl Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie op hul goeie samespel sal wil voortbou.

Die wedstryd begin Saterdag om 15:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Stormers: Damian Willemse (heelagter), Angelo Davids (regtervleuel), Ruhan Nel (buitesenter), Dan du Plessis (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Hacjivah Dayimani (flank), Deon Fourie (flank), Marvin Orie (slot), Ruben van Heerden (slot), Frans Malherbe (stut), Joseph Dweba (haker) en Steven Kitshoff (kaptein en stut). Plaasvervangers:  JJ Kotze, Ali Vermaak, Neethling Fouché, Gary Porter, Ben-Jason Dixon, Willie Engelbrecht, Paul de Wet en Sacha Feinberg-Mngomezulu.

Bulls: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), David Kriel (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (kaptein en slot), Ruan Vermaak (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Simphiwe Matanzima, Francois Klopper, Janko Swanepoel, Nizaam Carr, Keagan Johannes, Chris Smith en Lionel Mapoe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.