Begeesterde Argentyne klink Blitsbokke se doppie

Die Blitsbokke het vandag hul rieme teen Argentinië in die kwarteindstryd van die Olimpiese Spele styfgeloop. Foto: Anton Geyser.

Die Blitsbokke sal nóg ’n verdere vier jaar moet wag om op hul bronsmedaljevertoning in Rio de Janeiro te verbeter nadat hulle vandag in die kwarteindstryd van die Olimpiese Spele deur Argentinië uitgeskakel is.

Die begeesterde Suid-Amerikaners, wat vir die grootste gedeelte van die wedstryd met net ses spelers moes klaarkom te danke aan Gaston Revol se rooi kaart, het die kragmeting uiteindelik met 19-14 gewen.

Met sekondes op die horlosie oor is daar ’n strafdrie in die Blitsbokke se guns toegestaan, maar die Suid-Afrikaners kon nie die daaropvolgende afskop terugwen nie en die Argentyne het kort daarna met hul feesvieringe begin.

Die teleurstelling was duidelik op elke Blitsbok-speler se gesig te siene, maar ’n sewesrugbywedstryd is eintlik doodeenvoudig: Jy moet net meer punte as jou teenstander aanteken om te wen; iets wat die Suid-Afrikaners nie in die kwarteindstryd kon doen nie.

Vroeër het die Blitsbokke met Ierland (33-14), Kenia (14-5) en die VSA (17-12) afgereken om as die wenners van Groep C uit die stryd te tree.

Maar sukses in die groepwedstryde beteken nie noodwendig ’n plek op die podium nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rikus ·

Neil Powell was gemis, die manne het geen rigting gehad nie. Hoe kan jy Spele toe gaan en nie manne met ondervinding in groep insluit nie? Hoekom was Werner Kok, Specman en Senatla nie in die groep nie? Sewes het mens spelers met spoed en die x-faktor nodig. Hierdie groep was regtig nie opgewasse nie, en daai “fighting spirit ” was nie daar nie. Hulle verdediging was swak en swak besluite, regtig patetiese vertoning.

piet ·

My persoonlike waarneming: Ons sal nie sulke kompetisies kan wen met so ‘n fisies klein span nie. Dis ‘n ooglopende probleem, ons mannetjies sukkel om fisies groter teenstanders grond toe te bring. Fantasties op die aanval maar verdediging ‘n probleem. Daar is geen manier in die wereld hoe hierdie betrokke span byvoorbeeld vir Fiji sou klop nie. Van wat ek gesien het in die ander wedstryde sou ons definitief teen Fiji en NZ verloor het en waarskynlik ook teen Australie en Engeland verloor het. Dis bloot ‘n observasie, ons sou teen daai spanne se fisikaliteit gesukkel het.

Wakkerslaper ·

Kom ons wees nou maar eerlik, spansport in die nuwe SA is nou op 3de wêreld vlak… ons liga is nou meer hole soos Zim, Zambië, DRK, Nigerië, Soedan en so voorts…

Frans ·

Pleks om te hou by spelpatroon volg Blitzbokke hul eie kop en in 11 minute met 7 teenoor 6 steeds nie die mas opkom nie.Totale gebrek aan leierskap.Ander spanne soos NZ sou nooit so’n kans deur hul vingers laat glip het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.