Beseringspook loop weer by Marcell Coetzee

Marcell Coetzee. (Foto: Twitter)

Die beseringspook is nie ʼn genooide gas nie, maar hy hou aan kuier by Ulster se Springbokagtsteman, Marcell Coetzee.

Coetzee, wat oor ʼn paar weke na die Jakarandastad verhuis om sy loopbaan by die Bulle voort te sit, het Saterdagaand in Belfast ná ʼn kniebesering teruggekeer in die Pro14-wedstryd teen Leinster.

Die Bok-stormram het oudergewoonte ʼn drie gedruk, maar toe lol sy dyspier en kon hy nie die kragmeting voltooi nie.

Leinster het met 38-19 gewen nadat daar ses rooi- en geelkaarte neergereën het. Sodoende het Leinster tot sy vierde opeenvolgende eindstryd deurgedring waar hy op 27 Maart teen Munster speel.

In twee ander Pro14-wedstryde het die Glasgow Warriors, met Oli Kebble aan die spits, die Italiaanse Zebre-span met 31-20 geklop terwyl die Walliese Dragons, wat agt keer agtermekaar verloor het, weer op die wenpad gekom ná ʼn oorwinning van 31-26 oor die Ospreys.

Hanno Dirksen was die vleuel vir die Ospreys en die kanniedood Brok Harris het die Dragons se skrum geanker.

* In die Engelse Premierliga het die Bristol Bears hul voorsprong in die reeks behou deur die Worcester Warriors met 24-23 te klop.

Die Warriors, wat laaste op die punteleer is, is aangevuur deur Francois Venter (hy het ʼn drie gedruk), Francois Hougaard (met ʼn spoggerige nuwe haarstyl) en Gerrit-Jan van Velze. Die drie Suid-Afrikaners was puik en het so byna die knoop vir die Warriors deurgehak.

* Die Exeter Chiefs, met die flank Jacques Vermeulen aan die voorpunt, het Bath met 38-16 geklop. Bath was vir 50 minute in die prentjie, maar toe het die damwal gebreek.

* Gloucester, vir wie Ruan Ackermann op agtsteman uittroon, het London Wasps met 20-19 geklop. Gloucester moes vir byna 50 minute lank met net 14 spelers klaarkom nadat Ollie Thorley die trekpas gekry het.

* Die Cornish Pirates het in die kampioenskap (Engelse tweede liga) een van die grootste verrassings gelewer deur Saracens met 25-17 te klop.

Saracens, wat afgeskuif het, het steeds sewe toetsspelers in die tuig gehad, onder meer Vincent Koch. Saam het hulle 165 toetswedstryde agter die blad, maar hulle kon nie hul man staan teen die begeesterde tweedeliga-span nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Colombo ·

Dit moet seker Ruan Ackerman wees.(derde laaste paragraaf)Johan is sy pa.

Megan Swart ·

Dagsê Colombo
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.