Blitsbok-visier skuif na Kaapstad

Die Blitsbokke het oudergewoonte die silwerware in Dubai omhoog gehou. (Foto: X/Blitsbokke)

Die Blitsbokke het die nuwe sewesseisoen op die beste manier moontlik begin toe hulle vir Argentinië in die eindstryd van die Dubai-toernooi geklop het.

Volgende op die agenda is Kaapstad; ʼn toernooi waarin die Suid-Afrikaners vir die afgelope paar jaar net nie daarin kon slaag om die pyp te rook nie.

Die Blitsbokke is saam met Ierland, die VSA en Groot-Brittanje in Groep A van die Kaapse skouspel en die Dubai-triomf beteken dat hulle tans op die kruin van die nuwe seisoen se sewesgolf ry.

Philip Snyman, wat in Sandile Ngcobo se afwesigheid die afrigterleisels saam met Marnus Schoeman in Dubai vasgehou het, het die spelers vir hul toewyding in die woestynstad geloof.

“Ons het baie goeie werk gedurende ons voorseisoense voorbereiding gedoen en die spelers het gewys dat hulle gereed was om ses moeilike wedstryde te speel,” het Snyman gesê.

Hy meen dat die Blitsbokke se spel die praatwerk in Dubai gedoen het.

“Die manne het vooraf gesê dat hulle hul beste sal gee en hulle het beslis die daad by die woord gevoeg. Die span het baie karakter getoon en hulle was bereid om hard te werk.”

Die goeie vertoning beteken dat die span ook ʼn tree in die regte rigting gegee het om vir verlede jaar se gesukkel te vergoed.

“Ons wou ons heel beste op die veld gegee het. Die uitslae het nie soseer saakgemaak nie – ons wou mekaar ná elke wedstryd in die oë kyk. Die spelers het vir mekaar en vir die Blitsbok-trui gespeel; daar is weer trots in die span.”

  • Groepe vir die sewestoernooi in Kaapstad (9-10 Desember):

Groep A: Suid-Afrika, Ierland, VSA en Groot-Brittanje

Groep B: Argentinië, Fidji, Frankryk en Spanje

Groep C: Nieu-Seeland, Samoa, Kanada en Australië.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.