Blitsbokke koud tot louwarm

Beserings en verskeie topspelers wat uitgetree het of ander wat eerder verkies om 15-manrugby te speel, het die span op sy knieë gedwing. (Argieffoto: Springbok Sevens/Twitter)

Bestendigheid was vroeër altyd een van die boustene van die Blitsbokke se welslae.

Beserings en verskeie topspelers, soos Frankie Horne, Cecil Afrika en Justin Geduld wat uitgetree het, of ander, soos Werner Kok, Rosko Specman en Ruhan Nel wat eerder verkies om 15-manrugby te speel, het egter die span op sy knieë gedwing.

Dít het soos ʼn seer duim uitgestaan toe die Blitsbokke Saterdagoggend in Wêreldrugby se sewestoernooi in Singapoer erg geknou is en met 19-0 deur Australië in hul eerste groepwedstryd in Groep A uitgestof is.

Die Blitsbokke het ʼn ruk later sake in hul tweede wedstryd teen Hongkong China reggestel en met 31-12 gewen, maar twee drieë deurgelaat.

Dit beteken dat die Blitsbokke vir Nieu-Seeland (om 11:28) in hul derde groepwedstryd moet klop om vir die kwarteindrondes te kwalifiseer, óf hoop dat hul punteverskil beter is as dié van Australië.

Australië het drie drieë teen die Blitsbokke gedruk nadat Suid-Afrika in die eerste helfte oorheers het, maar nie punte kon aanteken nie.

Toe die spelskepper Ricardo Duarttee met ʼn geel kaart afgestuur is, het dit die damwal laat bars en kon hulle nie al die gate toestop nie.

In die Blitsbokke se kragmeting met Hongkong China het Duarttee, asook Impi Visser, geel kaarte gekry.

Die Blitsbokke het oorheers, maar eers kort voor rustyd die oorhand gekry deur drie vinnige drieë te druk.

Maar Hongkong China het teruggeveg om in die tweede helfte twee drieë te druk om die Blitsbokke sooibrand te gee.

Puntemakers: Australië 19 (5): Drieë: Henry Paterson, Nathan Lawson, Dietrich Roache. Doelskoppe: Maurice Longbottom (2). Suid-Afrika 0.

Suid-Afrika 31 (21): Drieë: Impi Visser, Mfundo Ndhlovu (2), Sebastiaan Jobb, Ethan James. Doelskoppe: Ricardo Duarttee (3). Hongkong China 12 (0): Drieë: Max Denmark, Liam Herbert. Doelskop: Bryn Phillips.

Uitslae: Argentinië 10, Ierland 0; Brittanje 19, Japan 17; Australië 19, Suid-Afrika 0; Nieu-Seeland 47, Hongkong China 0; Uruguay 24, VSA 21; Frankryk 26, Kenia 19; Samoa 28, Spanje 24; Fidji 21, Kanada 12; Argentinië 42, Japan 7; Brittanje 14, Ierland 7; Suid-Afrika 31, Hongkong China 12; Nieu-Seeland 24, Australië 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.