Blitsbokke moet weer opstaan

Suid-Afrika se afrigter Neil Powell (Desember 2017) (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Musiek speel eintlik ’n belangrike rol in moderne sport – dit kan gebruik word om ’n span vóór ’n groot wedstryd te motiveer, terwyl rofstoeiers en snelboulers dikwels hul eie intro-liedjie het.

Maar ná die naweek se treurmare in Toulouse – waar die Blitsbokke teen Ierland, Samoa en Skotland vasgeval het – moet hulle dalk by Danie Botha gaan kers opsteek.

Ja, “Wenners” sal dalk die voor die hand liggende keuse wees, maar “Wie kan dit verstaan” bevat tans die grootste wysheid: “As jy val, dan moet jy gou weer opstaan; uithou, aanhou, altyd voortgaan.”

Nie net het die Suid-Afrikaners hul plek bo op die HSBC-sewespunteleer aan Argentinië afgestaan nie, maar Neil Powell beskryf die jongste toernooi as die “swakste vertoning nóg” sedert hy die afrigterleisels in 2013 vasgevat het.

“Daar is bitter min dinge om oor opgewonde te raak. Nie net het die spelers die bal op ’n individuele grondslag laat val nie, maar die span het ook nie as ’n eenheid saamgespeel nie. Dit was baie teleurstellend,” het Powell gesê.

Volgens die hardebaard afrigter maak die spelers doodeenvoudig net te veel foute.

“Dit is amper asof die spelers vergeet het wat hul rolle en verantwoordelikhede is en dit plaas ons onder onnodige druk. Elke speler, en dit sluit die bestuurspan in, sal moet selfondersoek doen om vas te stel hoe dinge skeefgeloop het.”

Jordan Hendrikse. Foto: GB Jordaan.

Vir die komende naweek se toernooi in Londen het Powell vir Jordan Hendrikse, Angelo Davids en Sako Makata nadergetrek om die beseerde JC Pretorius, Tiaan Pretorius en Dalvon Blood te vervang.

Dit was egter nie net die Suid-Afrikaners wat in Frankryk gesukkel het nie – Nieu-Seeland het ook klei getrap, terwyl ’n span soos Australië sy kwarteindstryd-kragmeting verloor het.

In Londen wag Argentinië, Ierland en Kenia op die Blitsbokke. Hulle het geval, maar hierdie is wraggies ’n goeie geleentheid om weer op te staan.

Die span se uitstekende aanloop tot die reeks verdien ’n terugvegpoging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Spearhead ·

Die bokke het vir ‘n ruk koning gekraai omdat die bestes nie gespeel het agv hulle lande se Covid protokol.
Noudat hulle terug is, is ons skielik onder druk en maak hulle in elke wedstryd dieselfe basiese foute soos swak bal hantering, swak vedediging en powere besuitneming. Daar is nie vloei in die spel nie.
Kom Bokke, ons kan beter. Moet nie dat ons vd top posisie gestoot word nie

Casper ·

PP hoe verklaar jy dit dat Ierland die bokke klop,die eerste keer ooit.Wanneer laas het Samoa die bokke geklop.Hierdie keer op ‘n drafstap.Eenvoudig die bokke speel nie meer wenrugby nie.Hulle het sekerlik van die vinnigste spelers in die toernooi maar ook van die domste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.