Blitsbokke op die kruin van die sewesgolf

Suid-Afrika se seëvierende sewesrugbyspan. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke is nie net die wenners van die Edmonton-sewestoernooi nadat hulle vir Groot-Brittanje in die bekereindstryd met 24 – 12 geklop het nie, maar hulle het ook ’n reekssege behaal.

Neil Powell se span is onoorwonne in 12 agtereenvolgende wedstryde in Kanada nadat hulle ook in verlede naweek se toernooi in Vancouver koning gekraai het.

Ja, spanne soos Nieu-Seeland en Fidji was weliswaar nie deel van die aksie nie, maar is dit die Suid-Afrikaners se skuld? Hulle moes steeds met hul teenstanders afreken en hulle het dit met die grootste gemak gedoen.

Om ’n geykte sportuitdrukking te gebruik: Die Blitsbokke het hul vaardighede sommer ordentlik uitgestal.

Benewens hul verdedigingswerk het hulle ook hul teenstanders deurmekaar gehardloop met hul vele zoep-zap-en-zirts-lopies.

Shakes Soyizwapi (kaptein) het nege drieë in Edmonton gedruk, terwyl Muller du Plessis 11 keer sy pad na die doellyn gevind het.

Die twee puntemasjiene het ook elk twee drieë in die bekereindstryd teen die Britte gedruk en Du Plessis is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

“Ek wil eerstens die Here vir hierdie geleentheid bedank, sonder Hom sou niks moontlik gewees het nie. Dan aan my spanmaats – hierdie was ’n ongelooflike twee weke en ek is baie trots op julle,” het Du Plessis ná die afloop van die wedstryd gesê.

Dan het Powell (afrigter) erken dat die span dalk te veel foute in die eindstryd gemaak het, maar hy is ongetwyfeld in sy noppies met die silwerware.

“Daar is ’n hele paar nuwe gesigte in die span en ek is baie gelukkig met ons vertoning oor die afgelope twee weke,” het Powell gesê.

  • Puntemakers in eindstryd:

Blitsbokke: Drieë: Muller du Plessis (2) en Shakes Soyizwapi (2). Doelskoppe: Ronald Brown (2).

Groot-Brittanje: Tom Bowen en Robbie Fergusson. Doelskop: Luke Treharne.

  • Ander uitslae:

33 – 7 teen Kenia (halfeindstryd)

46 – 0 teen Hongkong (kwarteindstryd)

49 -0 teen Kanada (groepwedstryd)

43 – 5 teen Hongkong (groepwedstryd)

56 – 0 teen Mexiko (groepwedstryd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.