Blitsbokke struikel teen Engeland

JC Pretorius op die aanval in die Hamilton-toernooi. Foto: Blitsbokke/Twitter

Die Blitsbokke het vanoggend ’n voorsprong van 14-0 weggesmyt om uiteindelik met 21-19 teen Engeland in Hamilton te verloor. Omdat daar slegs halfeindstryde by dié toernooi gespeel word, was dit basies ’n kwarteindstryd tussen die twee lande.

Die Suid-Afrikaners het eerste bloed geruik toe Stedman Gans ’n briljante lyn gehardloop het om die wedstryde se openingsdrie te druk. Die oud-leerling van Hoërskool Waterkloof is die Blitsbok-kaptein vir die Hamilton-toernooi in Shakes Soyizwapi se plek.

Die Blitsbokke hul voet vierkantig op die versnelpedaal gehou en kort daarna het JC Pretorius die Britte na lug laat gryp met ’n goeie foplopie.

Maar drie onbeantwoorde Engelse drieë het gesorg dat hulle nie nét hul agterstand uitgewis het nie, maar ook ’n voorsprong van 21-14 opgebou het.

’n Herlewing is wat die Suid-Afrikaners nodig gehad het en Angelo Davids het die nodige vonk met ’n zoep-zap-en-zirtslopie verskaf; hy het letterlik die héle Engelse span geflous om meters veldgebied vir die Blitsbokke te wen. Justin Geduld het gaan druk en skielik was die telling 21-19.

Branco du Preez het ongelukkig die doelskop gemis en die Engelse het die wedstryd met twee punte gewen.

Suid-Afrika speel môre om 01:13 teen Kenia in hul laaste groepwedstryd.

  • Gans se span het hul eerste kragmeting met 31-5 teen Japan gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Phllip ·

Intussen het Bokke uiteindelik 10e geiindig! Hoe op dees aarde wen hul die eerste toernooi in Dubai, kom 2e in Kaapstad en val dan na 10e plek? Daar is iets drasties verkeerd. Hoop Neil kan die spul weer op die regte pad plaas.

jakes ·

Lyk my die Proteas se swak vertoning is aansteeklik en het hulle die blitsbokke ook besmet.

Frans C ·

Een van die probleme is mi spelers wat hul brood aan twee kante gebotter wil hê.Dit is die spelers wat ‘n paar Seweswedstryde speel en dan terugkeer na die 15 man kode.

Jy kan nie spelers soos Specman,Ruhan nel ens vervang nie.Die spelers wat hul vervang weet hul is 2de keuses wat nou die wa deur die drif moet trek en weer spanbou.

Dit kan ook nie lekker vir hulle wees om te weet dat van die spelers nou die wens uitgespreek het om Suid Afrika by die Olimpiese Spele later vanjaar in Japan te verteenwoordig.

Wat help dit om jou lyf op die spel te plaas en van die Olimpiese Spele te droom as jy weet jy gaan deur spelers wat terugkeer van die 15man kode vervang word.

Dit is tyd dat SARU hul voet neersit en dit stop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.