Blitsbokke vat vlam toe dit byna nie meer saak maak

Wanneer die gordyn oor die Londense sewestoernooi sak, wag daar ʼn paar kwelvrae op die Suid-Afrikaanse rugbybase oor die pad vorentoe vir die Blitsbokke. (Skermgreep: Twitter)

Die Blitsbokke het verlore aansien herwin toe hulle Amerika Sondagmiddag op Twickenham met 47-5 in die eindstryd om die negende plek van die Londense sewestoernooi vermorsel het.

Vroeër die dag het die Blitsbokke die halfeindstryd teen Japan met 29-7 gewen om tot die eindstryd om die negende plek deur te dring.

Dit was wonderlik om te sien hoe vaardig die Blitsbokke was; hoe hulle op volle vaart die gapings oopgeklief het, die Amerikaners agter die voordeellyn gewurg en in foute gedwing het.

Maar hoekom eers op die laaste dag van die toernooi, is die vraag wat allerweë gevra word nadat die Blitsbokke nie een van hul drie groepwedstryde en kwarteindstryd kon wen nie.

Wanneer die gordyn oor die Londense sewestoernooi sak, wag daar ʼn paar kwelvrae op die Suid-Afrikaanse rugbybase oor die pad vorentoe vir die Blitsbokke, wat een van die kroonjuwele van plaaslike rugby was.

Die Blitsbokke het die seisoen sewende geëindig – die laaste nog.

Ai, hoe smag ʼn mens nie na die rits reekstitels in die seisoene van 2008-’09, 2016-’17 en 2017-’18, asook die 2021-seisoen nie?

Daarby was die Blitsbokke ook nege keer die seisoen se naaswenner.

Voor die Londense toernooi het die Bokke in die eerste vyf toernooie 76 ligapunte verower, maar in die volgende vyf net 40.

Hopelik is dié teleurstelling op die rak geplaas; dalk is die spelers vasberade om die skaal weer in hul guns te swaai.

Puntemakers: Suid-Afrika 47 (28): Drieë: Shilton van Wyk, Mfundo Ndhlovu, Christie Grobbelaar (2), Ryan Oosthuizen, Ronald Brown, Justin Geduld. Doelskoppe: Ricardo Duarttee (3), Brown, Geduld (2). Amerika 5 (0): Drie: Aaron Cummings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

kragaap ·

Nuwe afrigter lei die verval van SA 7’s wat al vir baie jare gereeld onder die top 3 in die wêreld was.

Sobymykoolkop ·

Nou gaan hulle teen ñ afgewaterde ” afrika” iets deelneem om outomaties te kwalifiseer. Politiek en SA rugby………bla bla bla

George ·

Julle kan die afrigter soveel jul wil blameer, die spelers speel dan al lank saam en kan op die veld self besluite neem. ALLE spanne, in ALLE sport gaan deur die tipe fase. Ja, selfs dies wat WC gewen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.