Blitsbokke vyfde in Perth

Tristan Leyds het met ’n paar goeie breekslae vorendag gekom. (Foto: X/Blitsbokke)

Die Blitsbokke het hul Perth-sewesveldtog op ʼn wennoot afgesluit toe hulle vir Frankryk met 24–5 op die HBF-stadion geklop het.

Die uitslag beteken dat die Suid-Afrikaners die toernooi in die vyfde plek afsluit.

Shilton van Wyk en die belowende Tristan Leyds se drieë het vir ʼn gemaklike rustydvoorsprong teen die Fransmanne gesorg, terwyl Selvyn Davids en Donovan Don ook in die tweede helfte tot die driedrukpartytjie bygedra het.

Suid-Afrika het ʼn goeie aanloop tot die toernooi met oorwinnings teen Kanada en Spanje geniet, maar hulle het teen Argentinië en Fidji verloor.

Die Blitsbokke het weliswaar ʼn moedige vertoning in die bekerkwarteindstryd teen Fidji gelewer, maar ʼn paar foute het hulle uiteindelik gekelder.

Die Suid-Afrikaners moes ook in die finale wedstryd sonder die diens van Quewin Nortjé klaargekom  het nadat die spoedvraat sy been teen die eilandmanne seergemaak het.

“Quewin is iemand wat nooit kla of ʼn oefening misloop nie. Hy speel ses wedstryde op ʼn streep sonder enige klagtes. Sy besering laat beslis ʼn groot leemte in die span,” het Sandile Ngcobo, afrigter, gesê.

  • Puntemakers:

Blitsbokke: Drieë: Shilton van Wyk, Tristan Leyds, Selvyn Davids en Donovan Don. Doelskoppe: Leyds en Ricardo Duarttee.

  • Uitslae:

Suid-Afrika 24 – 7 Kanada

Suid-Afrika 21 – 14 Spanje

Ierland 19 – 5 Suid-Afrika

Fidji 14 – 12 Suid-Afrika

Suid-Afrika 24 – 5 Frankryk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.