Blitse werk hard vir Kaapse sukses

Die DHL-stadion in Kaapstad gaan weer gasheer vir die wêreld se voorste sewesspanne speel. (Foto: Hansie Linde. )

ʼn Enkelbesering sal Christie Grobbelaar uit die Kaapstad-sewestoernooi hou. Die 23-jarige speler het die besering verlede naweek in Dubai opgedoen.

“Christie het baie goed in Dubai gespeel en dit is sleg dat hy nou nie deel van die aksie kan wees nie – elke speler in die span wil bitter graag in hul tuistoernooi speel,” het Sandile Ngcobo gesê.

Tiaan Pretorius en Tristan Leyds is intussen nadergetrek en die finale 13 spelers vir die Kaapse sewesavontuur sal Donderdag aangekondig word.

Volgens die nasionale seweshoofrigter kan Pretorius die beseerde Grobbelaar se voorspelerskoene volstaan, terwyl Leyds ook ʼn opwindende speler is.

“Die sukses in Dubai het beslis ons selfvertroue ʼn welkome hupstoot gegee en almal is opgewonde om voor hul familie en vriende in Kaapstad te speel.”

Tog is Ngcobo maar al te bewus dat elke toernooi op ʼn skoon bladsy begin: Verlede naweek se sukses in die woestyn beteken nie noodwendig ʼn soortgelyke vertoning in die Moederstad nie.

“Ons het sukses gesmaak, nou moet ons weer hard werk. Dit was ʼn uitstekende aanloop tot die seisoen, maar ons sal op ʼn gereelde grondslag met bestendige vertonings vorendag moet kom.”

“Dit is lekker om te sien hoe die ouens weer vir mekaar en met glimlagte op hul gesigte speel. Ons aanvallende spelers is fiks en gereed vir aksie en ons gaan beslis taai teenstanders in Kaapstad wees.”

Bepalings (Saterdag):

10:50: Suid-Afrika teen Groot-Brittanje

14:12: Suid-Afrika teen die VSA

19:34: Suid-Afrika teen Ierland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Wel , die Blitsbokke het pragtig begin in Dubai en mag hul net so voortbou daarop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.