Blues klop ’Canes in ’n kaartefees

Die Blues het hul eerste wedstryd teen Nieu-Seelandse teenstander in 23 probeerslae gewen. Foto: Twitter.

Die Blues het hul derde agtereenvolgende wedstryd in vanjaar se Superrugby-reeks gewen toe hulle die Hurricanes vandag (Saterdag) met 24 – 15 in Wellington geklop het.

Jy kan egter verskoon word as jy vir ’n rukkie gedink het dat Mike Fraser eerder ’n verkeerskonstabel as ’n rugbyskeidsregter is. Dié man is baie vindingryk met die uitdeel van kaartjies en veral die Hurricanes het gereeld onder sy fluitjie deurgeloop.

Tyrel Lomax was eerste aan die beurt om ’n Fraser-kaart te ontvang nadat hy ’n Blues-speler met sy skouer gestoomroller het. ’n Verdere twee geelkaarte het gesorg dat die ’Canes later met net 12 spelers moes klaarkom.

Boonop het Jordie Barrett se bal-afklap-geelkaart tot ’n strafdrie gelei en die Blues kon hul eerste wedstryd in nege probeerslae teen die span van Wellington wen.

Die voormalige Suid-Afrikaanse vleuel Kobus van Wyk het met sy goeie drie in die hoekie gesorg dat die Hurricanes-vuur weer vir ’n wyle opgevlam het. Maar al die kaarte het gesorg dat dié vlammetjie so flou soos ’n senuweeagtige komediant se grappies was.

Maar die Blues verdien ’n pluimpie. Hulle het vóór vandag 23 agtereenvolgende wedstryde teen Nieu-Seelandse teenstanders weg van hul tuisveld verloor en hulle het goed gedoen om die  ’Canes-aanslag af te weer. Boonop gaan Beauden Barrett ook binnekort vir hulle begin speel en dan gaan hulle éérs ’n gevaarlike span wees.

  • Puntemakers:

Blues: Drieë: Strafdrie, Akira Ioane en Mark Telea. Doelskoppe: Otere Black (2). Strafskop: Black.

Hurricanes: Drieë: Ben Lam, Kobus van Wyk. Doelskop: Jordie Barret. Strafskop: Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Die swak dissipline van die Hurricanes het na ‘n goeie begin tot hul ondergang gelei. Die kaart storie bly steeds waar die skeidsregter se oordeel die deurslaggewende faktor is.Moet daar nie ‘n ander metode wees om die getalle gelyk te te hou in rooikaart gevalle.

Daar kan bv beslis word dat as ‘n speler ‘n rooikaart oortreding pleeg hy vervang kan word maar dat
as straf die span ook ‘n reserwe moet afstaan.So ‘n speler kan dan maar daarop reken dat hy nie
gunstig in die kleedkamer ontvang gaan word nie as hy behalwe van sy afstuur ook nog ‘n reserwe van speelkans ontneem.

Die oortredende span moet die keuse kan uitoefen want met 15 teen 14 en later 13 word dit ‘n ongelyke wedstryd wat net geniet word deur die ondersteuners van die nie oortredende span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.