Blydskap vir Stormers op Ellispark

Clayton Blommetjies druk sy drie. Foto: GB Jordaan.

Die Lions het vandag ʼn waardevolle rugbyles in hul Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Stormers op Ellispark geleer: Moet nooit die vreugdevure te gou aansteek nie.

Want nadat die tuisspan ʼn goeie rustydvoorsprong van 22 – 10 opgebou het, moes hulle amper verslae toekyk hoe die Kapenaars hulle nie net inhaal nie, maar terstond sommer ook verbysteek.

Die Stormers het ongetwyfeld in die tweede helfte vlamgevat met Sacha Mngomezulu, Clayton Blommetjies en Nama Xaba wat oor die doellyn gehardloop, geval en geduik het.

Veral Blommetjies se drie was deurslaggewend. Nie net het dit gesorg dat die besoekers die voortou met mening in die kragmeting vasvat nie, maar dit het ook kort op die hakke van ʼn omstrede skeidsregterbeslissing (as jy nou ʼn Lions-ondersteuner is) gevolg.

Die Johannesburgers was ʼn kort rukkie vóór die Blommetjies-drie daarvan oortuig dat hulle ʼn drie gedruk het, maar Cwengile Jadezweni het sommer daar op die veld beslis dat die bal te kort geplant is.

Die uiteinde van al die drama? ʼn Oorwinning van 31 – 22 vir die Stormers.

Maar dit was beslis ʼn baie goeie Suid-Afrikaanse derby – selfs al het swak lynstaanwerk en verdagte skoppe gereeld hul verskyning gemaak.

Andries Coetzee op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Die jong Henco van Wyk het gewys dat hy oor ʼn blink rugbytoekoms beskik. Die oudleerder van Hoërskool Monument het reeds in die openingsalvo’s van die wedstryd sy stempel afgedruk toe hy ʼn puik Lions-spanpoging afgerond het.

Dan was Sanele Nohamba oudergewoonte ʼn woelwater agter die skrums, terwyl Andries Coetzee ook ʼn goeie wedstryd in die no. 15-trui geniet het.

Daarteenoor het die Stormers gewys dat hulle een van die voorste spanne op die aanval is, terwyl Manie Libbok se visie tot Mngomezulu se drie gelei het.

Nama Xaba het ook ʼn barshou gespeel en benewens sy gebruiklike drie was hy ʼn derduiwel wanneer daar om die bal op die grond baklei word.

Dit is beslis ʼn wedstryd wat die kykweer op die sportbetaalkanaal werd is.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Angelo Davids, Sacha Mngomezulu, Clayton Blommetjies en Nama Xaba. Doelskoppe: Manie Libbok (4). Strafskop: Libbok.

Lions: Drie: Henco van Wyk. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafskoppe: Hendrikse (3) en Sanele Nohamba (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.