Bok-drieë laat Damian glimlag

Damian de Allende het een van die Springbokke se drieë in Buenos Aires gedruk. Foto: Twitter.

Ja, die Springbokke kan in hul noppies wees ná die afgelope naweek se bonuspunt-oorwinning teen Argentinië in Buenos Aires.

Nie net het hul twee drieë in die laaste ses minute van die wedstryd ʼn demper op die Argentyne se veggees en aggressie geplaas nie, maar hulle het ook koelkop in moeilike omstandighede gebly.

Tog sal hulle ʼn meer kliniese vertoning in die volgende toets teen die Poemas moet lewer.

Die Springbokke speel Saterdagmiddag teen die Suid-Amerikaners in Durban en net soos in die eerste wedstryd sal hulle góéd moet wen as hulle nog in die Rugbykampioenskap-wedloop wil bly.

Hoewel Suid-Afrika en Nieu-Seeland kop aan kop op die punteleer is, het die All Blacks ʼn beter punteverskil (+41) as die Bokke (+28).

Volgens Damian de Allende is hy trots op die Springbokke se veggees in Argentinië.

“Ons het geweet dat hulle met mening sou terugbaklei en ongelukkig het ons dissipline ons in die tweede helfte in die steek gelaat. Gelukkig kon ons in die doodsnikke van die kragmeting weer beheer van die wedstryd neem en dit was lekker om die span se veggees te sien,” het die senter gesê.

De Allende het een van die Springbokke se vyf drieë in die kragmeting gedruk en hy meen dat die Bokke besig is om vordering op die aanval te maak.

Veral die hanteerwerk in die aanloop tot Malcolm Marx se tweede drie laat hom glimlag.

“Dit is iets waaraan ons baie hard werk en ek is bly dat ons dit in die wedstryd kon uitvoer. Ja, ons maak foute op die veld, maar ons probeer ook om ons spel te ontwikkel en te verbeter; nie net as ʼn span nie, maar ook as individuele spelers.”

Die Wêreldbeker is immers om die draai.

Die Springbokke speel Saterdag om 17:05 teen Argentinië in Durban, terwyl die All Blacks en die Wallabies om 09:35 (SA tyd) in Auckland sal kragte meet.

  • Sprinbok-puntemakers in Buenos Aires: Drieë: Strafdrie, Malcolm Marx (2), Jaden Hendrikse en Damian de Allende. Doelskoppe: Damian Willemse en Frans Steyn (2). Strafskop: Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.